Skip to main content

Hoe om te beplan vir die matriekeksamen

Driaan Pretorius gesels vandag oor hoe matrikulante hulself kan voorberei vir die eksamen. Deel asseblief hierdie podcast met matrikulante in jou omgewing.

Ons almal ken die gevoel… ’n hol kol op jou maag, slapelose nagte, definisies, terme en feite wat deur jou kop maal en dan is daar nog die aanhoudende stemmetjie wat soos ‘n langspeel-plaat in jou kop vashaak: “Die tyd is min, jy sal moet begin!!”

Eksamenstres! Iets wat nie net deur jou as leerder ervaar word nie, maar beslis ook iets wat jou ouers ervaar en hulle stresvlakke die hemele in laat styg. Maar dié keer voel dit anders, want dis nie net enige eksamen nie, dis Matriekeksamen! Die sleutel wat jou toekomsdrome kan oopsluit. Ons is deeglik bewus van die feit dat die tyd min is en ons agter ons lessenaars moet kom. Maar hoe gemaak as ek myself net nie so ver kan kry om te begin nie? Ek weet ek moet, of sal ek sê, moes al begin leer het, maar ek’t net nie die lus of die “oemf” nie. Hoe kry ek myself oor hierdie eerste hekkie?

Emosionele en fisiese voorbereiding is ewe belangrik as dit by eksamenvoorbereiding kom, want ons is mos nie net ‘n kop nie, maar ‘n totale liggaam, met siel en gees.

Vandag wil ek net so paar kantlyn aantekeninge maak wat jou dalk kan help om met “oemf” agter die lessenaar in te skuif en te begin leer. Dalk is dit niks nuuts nie en het jy dit al vantevore gehoor, maar soos hulle sê: Herhaling is die begin van vaslegging!

Eerstens: Oefening – Jy’t seker al van die uitdrukking gehoor: ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees, of soos Plato dit oorspronklik gestel het: “’n Gesonde gees in ‘n gesonde liggaam.” En is dit nie vir jou waar woorde nie. Wel, nie almal van ons is ewe lief vir oefening nie, so gaan stap net buite, sommer om die blok of ‘n paar draaie in die tuin. Jy sal verbaas wees oor hoeveel meer jy inneem nadat jy buite in die vars lug was en die natuurskoon ervaar het.

Tweedens: Kom tot rus – Om tot rus te kom, behels baie meer as net slaap.

TV en sosiale media kan lei tot inligtingoorlading, wat weer stresvlakke verhoog, só beperk jou skermtyd van nou tot na die eksamen.

Jesus nooi my en jou uit, om in Hom tot rus te kom. So skeduleer ten minste 10 min stiltetyd soggens en/of saans. Dis nie aldag maklik om in tye van stres stil te raak nie, want as ek myself kry is ek weer besig met ‘n “to-do list” in my kop – so dwing jouself om stil te word. Konsentreer op jou asemhaling. Haal diep asem en hou dit vir so paar tellings. Blaas nou al daardie slegte koolsuurgas uit, voel hoe jou longe leeg raak. Herhaal nou dié proses so 5 keer. Luister nou na ‘n aanbiddingslied of twee (instrumentele musiek werk soms die beste). Lees nou ‘n Psalm hardop. Vertoef net so ‘n wyle in God se teenwoordigheid. Sê vir jouself hardop, sodat jy dit kan hoor: Die Here het my tot hiertoe gebring, gelei, gedra. Nooit as te nimmer sal Hy my dan op hierdie stadium van my lewe los nie. Ek sal nie bang wees vir die eksamen wat voorlê nie, want die Here is by my.

Derdens: Beplanning of tydsbestuur – Dis een van jou beste wapens om eksamenstres te bekamp. Sorg dat jy vir jouself ’n studierooster opstel en dit volg.  Onthou, hoe meer georganiseerd jy gaan wees, hoe meer in beheer gaan jy voel en hoe laer gaan jou stresvlakke op die ou einde wees. Onthou, die matriek eindeksamen is ‘n marathon, en nie ‘n wedloop nie. So “pace” jouself.

Breek jou leergedeeltes op in meer hanteerbare dele. Om te veel op een slag te probeer leer, sal net ‘n angstige en ongefokusde brein tot gevolg hê. Hou jou studiesessies kort en effektief en beloon jouself met konstruktiewe pousetjies tussen deur.

Ek herinner jou aan Paulus se woorde in Filippense 4 vers 13 – Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee. Onthou, ‘n ouer wat neul is ‘n ouer wat omgee. So omring jouself met omgee-mense wat vir jou sal bid met die voorbereiding van jou matriekeksamen.

So haal diep asem en weet dat die Here VOOR jou is om jou pad gelyk te maak; dat die Here LANGS jou is om jou in sy arms toe te vou; dat die Here AGTER jou is om die aanslae van die Bose af te weer; dat die Here ONDER jou is om jou te dra as jy mag val; dat die Here RONDOM jou is om jou te beskerm; dat die Here BOKANT jou is om jou te seën en dat die Here BINNE-IN jou is om jou te lei met sy Heilige Gees.

Wees verseker, die drie-enige God is BY jou – van nou af tot in ewigheid.

Luister hier na die podcast:

 

Leave a Reply