Skip to main content

Melanie Thirion gesels vandag oor barmhartigheid (Augustus is Barmhartigheidsmaand in die kerk)

Luister hier na die podcast:

Een manier waarop kinders en jongmense se geloof gevorm word, is deur geleenthede van diensbaarheid.

In Augustus vier ons Barmhartigheidsmaand in die kerk.

Ons vier dit omdat God barmhartig is. In die Ou Testament leer ken ons God se barmhartigheid teenoor die volk Israel. Die Psalmdigter getuig in Psalm 86:15: “Maar U, my Heer, U is ‘n barmhartige en genadige God. Geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.”

Daar is nog baie ander voorbeelde in die Ou Testament van God se barmhartigheid teenoor mense, en sy opdragte aan die heersers van daardie tyd om vir mense te sorg wat nie vir hulleself kan sorg nie.

In die Nuwe Testament leer ken ons vir Jesus as die grootste, tasbaarste voorbeeld van God se barmhartigheid. Jesus het deur gelykenisse en deur die voorbeeld van sy eie lewe vir die mense van sy tyd gewys hoe om barmhartig te wees teenoor weerlose mense in hulle midde. Sy kruisiging en opstanding is die grootste vorm van barmhartigheid wat God aan ons mense kom wys het – om pyn en lyding namens ons te dra, sodat ons in volheid saam met God kan lewe.

Die Gees neem Jesus se werk verder, en skep elke dag geleenthede vir ons, sy liggaam, om barmhartig te kan wees in ‘n wêreld wat smag na deernis en omgee – sodat hulle ook die goedheid van God kan leer ken.

Ons fokus vir hierdie jaar se barmhartigheidsmaand is hoe gemeentes by vroeëkindontwikkeling inisiatiewe in julle gemeenskap diensbaar kan wees en so getuig van God se barmhartigheid.

Hier is ‘n paar idees vir junior kategese:
Bou vooraf ‘n vriendelike verhouding met ‘n creche of ‘n dagsorgsentrum in julle gemeenskap. Vra vir die hoof of die bestuurder of julle een Saterdag hulle fasiliteit kan kom skoonmaak. Neem Handy Andy, skropsponsies, rubberhandsoeke, emmers, lappe ens. saam. Was dan alles wat plastiek is, af – die tafeltjies en stoeltjies sowel as plastiek speelgoed. Sorteer die legkaarte en vetkryt-houers.

Hierdie is ‘n lekker diensgeleentheid wat huishoudings met jong kinders saam kan doen– almal was en speel lekker saam!

Nog ‘n idee is om ‘n lys by die hoof of bestuurder te kry met al die kinders se verjaarsdae. Verdeel die kinders se verjaarsdae tussen die junior kategese groepe, en gee vir elke groep die verantwoordelikheid om die verjaardagmaat te bederf op hulle verjaardae. Laat die kategese groep ‘n geskenkpakkie opmaak of ‘n koek saam bak, wat julle dan gaan aflewer by die sentrum wanneer die maat verjaar. Die kinders kan ook vir die verjaardagmaat ‘n kaartjie maak.

Met die senior kategese groepe kan julle ook ‘n was-dag hou soos met die juniors. Julle sal ook vir die sentrum vooraf kan vra of daar ‘n klaskamer of vertrek is wat dalk ‘n laag verf nodig het, of herstelwerk wat gedoen moet word. Neem die senior kategese om ‘n dag te spandeer om te verf en/of instandhouding te doen.

Nog ‘n idee vir die senior kategese is om die personeel van die sentrum te bederf, of met hulle verjaardae – soos die verjaardagmaats wat ons genoem het by die junior kategese – of in die vorm van ‘n bederf-oggend. So ‘n geleentheid hoef nie uitspattig en duur en lank te wees nie. Die jongmense kan byvoorbeeld een Saterdagoggend die personeel by die kerk ontvang, vir hulle ‘n lekker ontbyt maak en saam met hulle bid. Julle kan vir mekaar se behoeftes bid, maar dan spesifiek saam bid vir die kinders wat elke dag na die sentrum toe kom.

 

Lees meer: Little Seeds deel eredienswenke, gemeenskapswenke en diensbaarheidswenke oor Vroeëkindontwikkeling (VKO)

VKO-wenke vir Barmhartigheidsmaand

Leave a Reply