Anriëtte de Ridder gesels vandag oor angs onder tieners.
Ek is nie ‘n mediese dokter of sielkundige nie, maar ‘n ouer, predikant en ‘n ma van drie. Daarom wil ek bloot vandag ‘n paar gedagtes deel oor die onderwerp om mense meer bewus daarvan te maak.
Die druk en uitdagings van tiener-wees kan ‘n groot impak hê op ‘n jong persoon se geestesgesondheid, en dit is belangrik om die waarskuwingstekens van angs te herken.
Angs is ‘n natuurlike emosie wat almal van tyd tot tyd ervaar. Dit is baie natuurlik om voor ‘n belangrike wedstryd, optrede of in die eksamentyd angstig te raak. Dit kan ‘n nuttige reaksie wees om gevaar of bedreigings te herken en daarop te reageer. Maar wanneer iemand kronies angs ervaar, of as dit onvanpas of oordrewe is, kan dit wees dat daardie persoon aan angs lei en dit kan nadelig wees t.o.v. hulle geestesgesondheid.
As ‘n tiener voortdurend of uitermatig oor dinge bekommerd is en dit moeilik vind om van hierdie gedagtes ontslae te raak of om te ontspan, kan dit ‘n teken van angs wees.
Angs kan ook fisiese simptome veroorsaak, soos kopseer, maagprobleme en naarheid en soms ervaar tieners met angs ook uitdagings om te slaap of hulle word dikwels wakker.
Angs kan ‘n tiener ook irrasioneel maak, en hulle kan dinge vrees wat nie ‘n werklike bedreiging vir hulle is nie. Hulle kan begin om te onttrek van vriende en sosiale aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
Daar is ‘n paar verdere dinge wat tekens van angs kan wees, maar onthou, dit kan ook net gewoon deel van die tienerfase wees – soos om vinnig kwaad te raak, gedurig geïrriteerd te wees, of self-krities en perfeksionisties te raak. Maar jy sal weet of dit ‘n tiener se normale gedrag is, of nie.
Nog ‘n waarskuwingsteken kan ‘n afname in hul skoolprestasie wees of ‘n tiener wat hom/haarself sny om verligting te vind. Selfsny, middel misbruik en/of selfmoordgedagtes is ernstige tekens van angs of depressie en moet onmiddellik aangespreek word.
As jy dink ‘n tiener ervaar angs, is dit belangrik om hulle te ondersteun en professionele hulp te soek. Praat met hulle oor hul gevoelens en moedig hulle aan om met hulle ouers, asook ‘n dokter of ‘n terapeut te gesels. Moet nie die probleem ignoreer of hulle alleen probeer help nie.
Wees liefdevol, geduldig, en ondersteunend terwyl die tiener met hul angs stry. Dit is ‘n belangrike stap na ‘n gesonder en gelukkiger lewe. Dit gaan tyd neem. Onthou – daar is baie hulpbronne en noodnommers beskikbaar om jou en die tiener te ondersteun, byvoorbeeld op Suid-Afrika se Depressie en Angs groep se webtuiste www.sadag.org, sowel as by www.depressie101.co.za
Luister hier na die podcast: