Skip to main content
Erediens: Kerkjaar

Pinkstertyd: simbole

By June 14, 2021August 30th, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Pinkstertyd (simbole)

Die meeste gemeentes vier hierdie week Pinkstertyd. Gebruik tyd in die erediens om seker te maak almal weet waar Pinkster inpas in die kerkjaar kalender, hoekom ons dit herdenk en hoe ons dit prakties kan vier. (Daar is ‘n aparte erediens wenk vir Pinkstersondag se erediens). 

Kerkjaar en Pinkster
Druk die kerkjaar kalender vir almal uit en gesels oor die verskillende seisoene en feeste, sodat almal weet waar Pinkster inpas.
Kerkjaar kalender: https://dinkjeug.co.za/kerkjaar-kalender/

Gebruik die simbole van Pinkster om meer oor Pinkster te vertel
(Maak ‘n uitstalling soos jy gesels van simbole / prente – jy kan ook kinders betrek om dit uit te pak of vas te hou.)

Plakkaat met die syfers: 40+10 = 50 daarop: 40 dae na Jesus se opstanding is sy hemelvaart en 10 dae later die koms van die Heilige Gees. Dus: 50 dae na Paasfees is Pinksterfees – ‘n oesfees van die Jode, wat nuwe betekenis gekry het vir die dissipels toe die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is (Hand 2:1). In die Griekse Bybel is Pinkster pentekoste wat 50 beteken.
Pinksterdienste of -bidure tydens die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinkster het in 1860 deel geword van die NG Kerkfamilie se tradisie na die herlewingsgebeure wat in Wellington opgevlam het by die dienste wat Ds. Andrew Murray gelei het, en wat landswyd uitgekring het. “Pinkster” het dus in ons kerk ‘n spesiale karakter verkry as ‘n 10 dae tyd van gebed en afwagting op die Gees wat die kerk nuut maak en uitstuur.

‘n Afwaartse pyl: een van die simbole van Pinkster is die afwaartse pyl wat ons herinner aan die Gees wat oor Jesus se vriende neergedaal het (Hand 2:3).

Rooi en goue lap en die simbool van tonge van vuur: die kleure en simbool wat veral op Pinksterdag gebruik word is rooi en goud om die tonge van vuur wat neergedaal het, te simboliseer. (Hand 2:3)

Wind: baie prente of uitbeeldings van Pinkster sal ook wind uitbeeld, omdat daar met die uitstorting van die Gees ‘n geluid soos ‘n stormwind was (Hand 2:2).

‘n Duif: die duif help ons onthou dat die Gees ook die vorm van ‘n duif aangeneem het by Jesus se doop. Dit is ook simbolies vir vrede (Luk 3:21-22).

‘n Skip: Pinkster is dus as’t ware die geboortedag van die kerk! Die skip simboliseer die kerk wat haar opdrag gekry het om uit te gaan (vaar) na die wêreld (Hand 1:8).

‘n Reënboog: ‘n reënboog is ook ‘n Pinkster simbool en wys op die verskillende tale, volke, en nasies wat op Pinkster ingesluit is in God se beloftes, toe die dissipels begin om in verskillende tale te praat (Hand 2:4-12, 41).

Gesels in die banke (moedig mense aan om inter-ouderdom te gesels):

  • Watter simbool van Pinkster staan vir jou uit en hoekom?
  • Watter (moderne) metafoor sou JY kies om die Heilige Gees te beskryf?

 

Doen idees vir families: https://dinkjeug.co.za/pinkster-doen-idees-vir-families/

Podcast vir ouers / kategete oor Pinkster: https://dinkjeug.co.za/dinkjeug-podcast-vier-pinkster-met-kinders-en-tieners/

KIX Kinderpinkster met tuis opsie vir gesinne: https://dinkjeug.co.za/kix-kinderpinkster-2021/

 

Die geskiedenis van Pinkster in die NG Kerk: 3 artikels wat hiermee kan help

https://bybelkoerant.co.za/2021/05/13/waar-kom-die-pinksterbidure-in-die-ng-kerk-vandaan/

 

Geestelike herlewing en Pinksterbidure

Pinkster: Dit is tyd vir ’n nuwe begin

 

 

 

Leave a Reply