Paasfees – met die viering van Jesus se kruisiging op Goeie Vrydag en die opstanding op Paassondag – is die hart van die Christelike tradisie. Die tyd van inperking gee gesinne die geleentheid om hierdie naweek saam nuut te besin oor die betekenis van hierdie gebeure vir ons.
Hier is ‘n paar voorstelle hoe gesinne hierdie naweek die dood en opstanding van Jesus kan vier.
Kreatiewe voorstelling van die Paasgebeure
Gaan na hierdie skakel en kyk hoe die gesin saam simbole bymekaar kan sit om die paasgebeure uit te beeld. Plaas dit op ‘n sentrale plek in die huis wat julle herinner aan die gebeure wat ons vier.
Bak ongesuurde brood
Verduidelik: Ons bak nou ongesuurde brood. Brood sonder gis is plat. Dit is die soort brood wat Jesus en sy dissipels sou eet op die aand wat Hy die eerste nagmaal ingestel het.
Bestanddele
1 koppie meel
1/3 koppie olie
1/8 teelepel sout
1/3 koppie water
Aanwysings
Voorverhit die oond teen 220° C.
Meng meel, olie en sout in ‘n bak; voeg water by en meng met jou vingers totdat die deeg sag is. Die kinders sal met hierdie gedeelte kan help.
Na die bestanddele goed gemeng is, help die kinders om ‘n gedeelte van die deeg af te breek en op ‘n oppervlak met meel op te sit.
Laat hulle die deeg vir 5 tot 6 minute knie.
Rol die deeg in ses balletjies en druk dit tot skyfies op ‘n voorbereide bakplaat plat.
Bak die deeg in die verhitte oond tot die brood gaar is. Ongeveer 8-10 minute.
Goeie Vrydag
Luister as gesin saam na ‘n aanlyn diens.
Breek dan die brood wat julle gebak het en deel dit uit aan mekaar met die woorde: Christus se liggaam is vir jou gebreek.
Neem die wyn/druiwesap en gee dit vir mekaar aan met die woorde: Christus se bloed het vir jou gevloei.
Die feit dat ons die tekens vandag almal by ons huise vier, is baie betekenisvol. Dit onderstreep die dieptepunt van God se verlossingsplan: Hy daal in Jesus neer ín ons wêrelde, kom maak sy woning bý ons. Die lydende God is bý ons vanoggend, in ons huise. Hy verstaan ons uitdagings, ons vrese, ons bekommernisse, ons hartseer en pyn, en so ook dié van die hele wêreld.
Hou mekaar se hande vas terwyl julle julle oë toemaak. As gebed kry elkeen in die gesin geleentheid om ‘n woord te sê van identifisering met die nood in die wêreld. Jy kan meer as een geleentheid gebruik, bv siek mense met Covid-19, bejaardes, haweloses, mense met besighede wat gesluit is, geen salaris, dokters en hospitaalpersoneel, polisie, hulle in informele huise, alle essensiële dienste, mense wat alleen is…
Gebed:
Jesus, U lig skyn in ons. Help my dat my eie donker en onsekerheid nie die koers van my lewe bepaal nie. Jesus, U lig skyn in ons. Laat my hart elke dag U liefde omhels. Amen
Saterdag
Bak saam met die kinders Paasverhaal-koekies. Kry die aanwysings hier.
Paassondag
Maak almal wakker terwyl dit nog donker is. Die gesin kom sit dan elkeen met ‘n kers om die Paassimbool wat julle gemaak het. Laat een van die gesinslede die opstandingsverhaal lees uit Johannes 20:1-10. As dit begin lig raak, kan die gesin mekaar groet met die woorde: Jesus het opgestaan, Jesus het waarlik opgestaan. Gaan haal nou die paaskoekies uit die oond wat julle gister gebak het en gee vir elkeen een om te eet. Julle sal sien dit is hol aan die binnekant – die graf is leeg.
- Deel met mekaar wat die leë graf vir julle gesin beteken.
- Watter gewoontes in ons gesin moet ons los/minder doen? Watter nuwe gewoontes kan ons aanleer en begin doen?
Aanlyn Opstandingsdiens
Die gesin word uitgenooi om saam na die aanlyn erediens te luister. Na die tyd kan julle paasbolletjies (hot cross buns) saam eet. Laat iemand paaseiers in die tuin wegsteek wat julle later Sondagmiddag saam kan soek.
Met erkenning aan NG Stellenbosch Moedergemeente.