Nehemia se verhaal vertel van Jerusalem se mure wat in flarde lê na die ballingskap en God wat Nehemia roep om dit te herbou. Nehemia deel die visie met die volk en elke familiegroep kry ‘n stuk om te bou. Hulle werk saam om die enorme taak te voltooi. Elke familie lyk anders, maar elkeen doen hul deel – daar is pa’s en ma’s, seuns en dogters, slawe, handelaars, werkers, amptenare ens. wat almal in groepe bou. Ten spyte van teenkanting en uitdagende omstandighede word die muur voltooi en aan die Here gewy.
Ons het ook ‘n uitdaging wat deur God aan ons gegee is en ons is ook aan mekaar verbind…
Onthou jy nog die dag wat jy jou kind gebring het om gedoop te word en die belofte wat jy gemaak het om hom/haar van Jesus te vertel? Ons het elkeen die opdrag ontvang om ons eie geloof en ons kinders se geloof op te bou. Ons elkeen se familie lyk anders en ons ervaar ook verskillende hoogtepunte en uitdagings. Ouers is nie perfek nie en soms kan die verantwoordelikheid van die bouwerk (ouerskap) vir jou dalk oorweldigend voel.
Gelukkig doen ons dit nie alleen nie. God voeg gelowige mense bymekaar om mekaar te ondersteun en die pad saam te loop. Om saam te bou maak die taak makliker en moontlik. Dit is die wonderlike belofte in die verhaal van Nehemia…
- Hoe kan jy inskakel in die geloofsgemeenskap?
- Wie is daar wat jou kan help bou aan jou kind/tiener se geloof?
- Hoe kan jy hierdie week ‘n ander ouer ondersteun?
Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. Nehemia 2:18
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).