Vroeg in Junie 2017 is daar aangekondig dat die grootste storm in 30 jaar die Wes-Kaap gaan tref. Toe Karel, een van die jong volwassenes in die gemeente, die nuus hoor, het hy die behoefte gehad om ‘n praktiese verskil te maak om die nood te verlig. Hy het heel eerste aan sy eie gemeente gedink en die vrymoedigheid gehad om die oproep te maak.
Hy het die kerkraad versoek om die kerksaal beskikbaar te stel vir mense vanaf die straat om ‘n veilige slaapplek vir die nag te hê. Karel en sy vriende het ook aangebied om die projek te oorsien.
Ek was verbaas oor die bereidwilligheid van ‘n groep jong volwassenes om vir twee nagte lank, in die middel van hul werksweek, skofte regdeur die nag te neem om dit moontlik te maak. Vanuit my ervaring was hierdie nie net ‘n geleentheid vir hulle om te dien nie, maar ook ‘n unieke geleentheid vir hulle om ‘n dieper verbintenis met mekaar te kweek.