Skip to main content
Leier Toerusting

Onsigbare magte in ’n kleingroep: Leerstyle

By November 9, 2017March 18th, 2020No Comments

Wanneer ’n kleingroepleier met kinders werk in ’n kleingroep situasie is daar ’n paar onsigbare magte, buiten die Heilige Gees, aan die werk. Dit is magte wat, sonder aandag, maklik bose magte kan word, maar met die regte aandag lewenskrag in jongmense se geloofsvorming kan wees. Hierdie magte is leerstyle.

Elke mens het ’n voorkeur vir ’n kombinasie van leerstyle. Dit is die manier waarop die mens die maklikste inligting, kennis en vaardighede aanleer en vaslê. Daar is baie variasies op die tema waarvan Peter Honey[1] se beskrywings soos volg is:

Activists” is hoofsaaklik doeners. Hulle leer deur:

  • nuwe leer-ervarings, aktiwiteite en geleenthede
  • kort hier-en-nou aktiwiteite soos speletjies, kompeterende take en rolspel
  • aktiwiteite waar hulle aandag kry en in die kollig kan wees.
  • as hulle in die diepkant ingegooi word met ’n uitdagende aktiwiteit

Jongmense met hierdie leerstyl floreer wanneer daar gereeld iets nuut gebeur en hulle is oop vir nuwe ervarings. Hulle sukkel egter met die volgende:

  • hulle is geneig om nie sommer oor meer as logiese voor die hand liggende oplossings of antwoorde te dink nie
  • hulle het die geneigdheid om te veel self te probeer doen
  • hulle pak take gejaagd aan sonder om mooi te beplan
  • raak maklik verveeld

Reflectors” reflekteer graag oor inligting. Hulle leer die maklikste wanneer hulle:

  • iets moet ondersoek of oordink
  • kans kry om oor ’n saak te dink voordat hulle moet reageer
  • kans kry om te reflekteer oor wat hulle gesien of geleer het
  • tyd het om tot ’n gevolgtrekking te kom
  • kan terugstaan om te observeer
  • inligting kan versamel en integreer om tot ’n nuwe gevolgtrekking te kom

Jongmense wat op hierdie manier leer vat gewoonlik bietjie langer omdat hulle op ’n metodiese manier inligting versamel en organiseer, voordat hulle gevolgtrekkings maak. Die uitdaging met jongmense met hierdie leerstyl is dat:

  • dit lyk of hulle nie belangstel nie en passief is
  • hulle kan lank vat om besluite te neem en tot ’n gevolgtrekking te kom
  • hulle nie sommer deelneem aan groepgesprekke nie

“Theorists” wil gevolgtrekkinge en uitkomste bepaal. Hulle leer die lekkerste wanneer:

  • hulle inligting metodies kan oordink en gevolgtrekkings en verbande met sake kan trek
  • daar ‘n gestruktureerde omgewing met ’n duidelike uitkoms is
  • hulle die kans kry om basiese metodes en motiverings agter sake kan bevraagteken en ondersoek
  • hulle intellektueel uitgedaag kan word
  • rasionele en objektiewe denke verwelkom word
  • hulle teenstrydighede kan saamgooi in ’n verstaanbare geheel

Jongmense wat op hierdie manier leer, funksioneer goed in ’n omgewing waar ’n model of metode hulle kan help om ’n spesifieke uitkoms te bereik. Hulle is oor die algemeen baie gedissiplineerd, maar hulle sukkel wanneer:

  • hulle buite die boks moet dink
  • die uitkoms of proses onseker of deurmekaar is
  • subjektiewe menings en perspektiewe – waar daar nie ’n definitiewe duidelike antwoord is nie
  • iets vol moets en moenies is

“Pragmatists” werk prakties volgens planne en tegnieke en hulle leer die maklikste in omstandighede waar:

  • daar ’n duidelike verband tussen die inligting en ’n probleem of kwessie is
  • hulle tegnieke kan aanleer wat ’n duidelike toepassing vir hul leefwêreld het
  • hulle nuwe metodes en tegnieke kan inoefen met positiewe terugvoer
  • hulle kan fokus op praktiese aspekte
  • teorie en informasie in praktiese situasies toegepas word
  • hulle kan eksperimenteer met verskillende benaderinge

Hierdie jongmense is op die man af en duidelik en wil by die punt uitkom sodat hulle kan weet wat om te doen. Dit raak dus vir hulle moeilik om te leer wanneer:

  • daar nie ’n duidelike praktiese toepassing is nie
  • baie klem op teorie en basiese beginsels is
  • hulle reeds ’n oplossing het

Wanneer ’n jongmens in ’n kleingroep situasie nie met een van sy dominante leerstyle gestimuleer word nie, raak hulle gewoonlik OF heeltemal passief en onttrek OF hulle raak ontwrigtend. Omdat ons nie altyd bewus is van jongmense se leerstyle nie, interpreteer ons die gedrag dikwels slegs as ’n dissipline probleem.

Kleingroepleiers is geneig om self die kleingroep in te rig volgens hulle eie dominante leerstyl. Die ding wat dan in gedagte gehou moet word wanneer jongmense ontwrigtend is of nie deelneem nie, is of die jongmense dalk verveeld is omdat hulle nie in hul leerstyl akkommodeer word nie.

[1] How To Become A More Effective Learner