Hoe om matrieks te ondersteun met die oog op hul rekord- en eindeksamen
In die verlede het baie gemeentes die gebruik gehad om ’n matriek seëndiens of stuurdiens te hou waar daar spesifiek gefokus word om vir die matrieks en hul toekoms te bid. A.g.v. Covid-19 en die huidige vlak 3 regulasies is baie gemeentes egter onseker of hulle hierdie jaar so ’n diens moet hou, en indien wel, wat moontlik is onder die regulasies.
Soos ons onsself kan indink, is verlies (soos al die laastes wat nie meer gebeur nie, soos interskole), die gebrek aan uitsien-en-beplan geleenthede (matriekafskeid), onsekerheid (oor die toekoms) en ’n wisselvallige roetine (ek dink nie ek hoef daaroor uit te brei nie!) van die uitdagings waarmee matrieks leef.
Maar binne-in die uitdagings, het gemeentes egter die geleentheid om steeds op ’n unieke en anderste manier matrieks te ondersteun in een onveranderde laaste: hul rekord- en eindeksamen. Indien julle as gemeente steeds wik en weeg oor of julle ’n matriek seëndiens of iets soortgelyks moet doen, volg hier ‘n paar praktiese wenke en idees om steeds ’n spesiale matriek seëndiens te hou, of matrieks te ondersteun met die oog op hul rekord- en eindeksamen: Covid-edition.
Luister hier na die podcast: (of lees verder)
1. As jy nog nie ’n WhatsApp groep vir jou matrieks gemaak het nie, maak een of vra ’n matriek om ’n groep te stig. Verduidelik dat daar geen druk of verwagtig op hulle is om deel te neem nie, maar dat die groep bloot vir ondersteuning is.
2. Kontak jou plaaslike hoërskole en bied jouself aan vir pastorale ondersteuning vir matrieks. Baie skole moes sny aan beradingsposte in hierdie tyd en dit plaas onderwysers onder baie druk. Indien jy dalk nie opgelei is in pastorale ondersteuing nie, verduidelik dat jy bereid is om net ’n oor te wees aan ’n matriek wat ondersteuning benodig, aangesien nie alle matrieks ’n ondersteuningsnetwerk tuis het nie.
3. Bemoediging / Motivering: Stuur so 2x per week bemoedigende boodskappe uit. Teksverse wat mooi gemaak is, sodat die matrieks dit op hulle sosiale media kan deel en ook klankgrepe en video’s. Indien jy video’s uitstuur, het ek gevind dit werk beter om die video self per WhatsApp uit te stuur eerder as ’n YouTube skakel.
4. Maak ’n spesiale Matrieksgebedsversoek “hoekie” op julle sosiale media. Vind uit watter vakke die matrieks op watter dae skryf. Plaas elke dag ’n gebedsversoek op julle sosiale media wat spesifiek gebed vra vir die vakke wat daardie dag geskryf word.
5. Pleks van om een matriek seëndiens te hou, kan die volgende gedoen word:
● Skep geleenthede in eredienste of by die gebedsversoeke om gereeld vir die matrieks te bid. Nooi ’n matriek om ’n kort gebed op te neem wat jy kan insluit by jou digitale diens, of reël iemand om tydens die erediens ’n gebed vir die matrieks te doen. Vra ook die matrieks om gebedsversoeke deur te gee.
● In plaas daarvan om ’n diens by die gemeente te doen, kontak jul plaaslike hoërskool en reël dat julle op ’n dag wat al die matrieks by die skool is, graag vir hulle ’n klein geskenkie wil gee. Maak dan ’n lekkerding en ’n bemoedigende kaartjie op, en verpak dit op ’n manier wat die skool dit maklik sal kan uitdeel bv. klasgroepe ens.
● Sulke bederfpakkies kan ook by ’n spesifieke erediens uitgedeel word aan matrieks, of nooi matrieks om die pakkie op ’n sekere tyd by die gemeente te kom oplaai.
● Bel of WhatsApp elke matriek en wens hulle as individu sterkte toe.
6. As jy graag ’n seëndiens wil hou, maar nie weet hoe om dit te doen met die huidige vlak 3 regulasies nie:
● Reël ’n aparte diens/ekstra diens waar net matrieks en hul gesinne (as jul getalle dit toelaat) dit bywoon.
● Pleks van ’n diens, hou ’n tee na kerk waar matrieks en hul gesinne genooi word (as jul getalle dit toelaat) en waar julle hulle kan bemoedig.
● Reël ’n spesiale buitelug diens, om die matrieks te vier.
● Maak ’n aparte video-greep wat dien as julle matriek seëndiens en stuur dit uit aan die gemeente.