Jy ken daai gevoel. Daai gevoel dat iemand nie mooi geluister het na wat jy sê nie. Wanneer dit met my gebeur is ek sommer dadelik kwaad, want die ander persoon gee dan nie regtig aandag aan my nie en dit laat my onbelangrik voel en ook dat my verhouding met die persoon nie belangrik is nie. Die meeste van ons doen dit, sonder dat ons dit besef. Steven Covey beweer dat ons in ons luisterproses baie kere meer besig is om ons eie reaksie te formuleer as om regtig te luister na wat iemand sê.
Wanneer ons met iemand stry kom dit nog beter na vore en baie kere ontaard die stryery in ’n “shouting match”, want ons voel dat wanneer ons die volume hoër maak, ons die punt beter sal kan dryf en op daardie manier gehoor sal word.
Om regtig na mense te luister is een van die maklikste maniere om menswaardigheid aan mense te betoon. Maar, om regtig te luister vat tyd en dit kos energie, want ons moet in iemand anders se skoene inklim. Die storie van Jesus en die pa wie se kind demoon-besete was (Markus 9:14-29) wys vir ons dat Jesus gehoor het wat aan die gebeur was, maar dat hy ook geluister het. Die manier waarop Jesus geluister het, het waarskynlik net soveel beteken as die feit dat Jesus die seun gesond gemaak het.
Pete Scazzero[1] help ons met ’n paar praktiese punte om na mense te luister (en hiervan is ook sigbaar in Jesus se optrede):
- Plaas jou eie agenda op die agtergrond. Jou eie agenda maak dat jy net wil hoor wat jy wil hoor, mis wat jy nie wil hoor nie en daarom nie luister nie.
- Laat die persoon praat tot hulle die hele gedagte afgehandel het. Wanneer ons “inchip” maak dit die omgewing vir hulle onveilig en in plaas van deel, word hulle dan verdedigend.
- Probeer dit wat die persoon gesê het in jou eie woorde herhaal en laat die persoon toe om jou te korrigeer, indien nodig. Dit sê vir die persoon: jy het geluister en jy doen moeite om te verstaan wat hy/sy probeer sê.
- As dit lyk of die persoon klaar gepraat het, maak eers seker of hy/sy klaar is. Dit maak dit moontlik vir die persoon om alles af te pak, sodat hulle kan voel hulle is gehoor.
Mag ons werklik na mense luister. Mag ons op hierdie eenvoudige manier mense help om menswaardig te voel. Mag mense op hierdie manier Jesus se genade deur ons beleef.
*Hierdie het voorheen in NG Kenridge se Vrydag Nuus verskyn.
[1] Peter Scazzero, 2006, Emotionally Healthy Spirituality, Zondervan