NOG 10 eenvoudige wenke om kinders te laat tuis voel in die erediens:
Anriëtte de Ridder
- Laat kinders iets voor in die diens kom haal of afgee.
Voorbeeld: ‘n simboliese saadjie of plantjie of gebedsversoek of kaartjie.
- Vra ‘n interaktiewe vraag wat mense in groepies / families vir mekaar antwoord.
Voorbeelde: Wie het ‘n groot invloed op jou lewe / lewe gehad? Wat is jou geliefkoosde Bybelverhaal? Waarvoor bid jy tans? Vertel van jou lekkerste verjaarsdag nog?
- Hou die erediens in ‘n ander plek.
Voorbeelde: ‘n piekniek erediens buite of ‘n diens om tafels in die saal of ‘n diens vir gesinne op die mat.
- Speel ‘n speletjie in die diens wat almal betrek
Voorbeelde: trek vragies uit ‘n hoed, bou jenga/lego om iets voor te stel of gee vir almal ‘n rooi en groen kaart en dan vir doen jy ‘n proefsteek met interessante / snaakse vrae waarvoor elkeen moet “stem”.
- Vier die kerkjaar. Kinders is mal oor rituele en feeste.
Voorbeelde: Gebruik kleure en simbole. Betrek kinders by die versiering van die erediens ruimte (hul kan in kategese iets maak byvoorbeeld vir advent of lydenstyd). Gee praktiese voorstelle wat hul tuis ook kan doen bv kruis op voordeur, adventskrans, ens.
- Let daarop en laat almal al hul sintuie gebruik met nagmaal (hoor, sien, vertel, voel en proe).
- Gee ‘n voorstel wat gesinne in die week kan doen om die boodskap van daardie dag te gaan leef.
Voorbeelde: besluit om een keer saam te eet hierdie week of maak broodjies en bring vir die sopkombuis bediening of besluit om hierdie week elke dag vir iets dankie te sê voor jul gaan slaap.
- Laat ‘n paar gesinne met kinders kollekte opneem.
- Laat kinders na kategese weer in die diens inkom en die gemeente wys wat hulle gemaak het terwyl iemand vertel waaroor hulle gesels het.
- Laat almal mekaar seën aan die einde van die diens. Gee die presies woorde hiervoor sodat dit gemaklik kan gebeur.
Wenke saamgestel na ‘n gesprek oor Familiedienste gereël deur die Wes Kaap Sinode se Taakspan vir Jeug- en Familie bediening 28 Julue 2016 te Communitas.