Skip to main content
Jong Volwassenes

Nadenke oor jong volwassenes en die NG Kerk Deel 4: Jong volwassenes wat bly in die NG Kerk

By March 22, 2018No Comments

Hier volg moontlike redes waarom ‘n groep jong volwassenes in die NG Kerk tuiskom, soos saamgestel uit ‘n gesprek van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap byeenkoms gehou in November 2017. Hierdie is deel van ‘n reeks van 4 artikels.

Navorsing fokus dikwels op jong volwassenes wat die kerk verlaat, maar daar is ook jong volwassenes wat in die kerk bly en dit is belangrik om te verstaan wie hulle is en hoekom hulle in NG gemeentes bly. Redes waaraan die groep kon dink sluit in gemak, tradisie, waardering vir die NG kerk, waardering vir die gereformeerde teologie, konneksie, geleentheid vir diens en ook kinders se betrokkenheid (wanneer hul kinders kry).

“Skokkend positief” se bevindinge

Uit die navorsing van die boek “skokkend positief” blyk dit dat jong volwassenes wat in die NG kerk bly redelik homogeen is. Hulle het grootgeword in huishoudings met redelike finansiële sekerheid. Hulle huisgesinne is oorwegend nukleus families (gesinne wat bestaan uit ’n pa, ma en kinders). Ouers en predikante het ook die grootste rol gespeel in hulle geloofsvorming.

“Skokkend positief” se navorsing wys verder dat die oorgrote meerderheid van jong volwassenes in die kerk voel dat die evangelie ’n ‘n betekenisvolle impak in hulle lewe het. 99% van die jong volwassenes in die studie glo dat Jesus Christus hulle persoonlike Verlosser is en 57% glo dat die kerk ’n integrale deel van hulle geloofslewens is. Hierdie jongmense voel sterk daaroor dat hulle ’n verskil moet en kan maak in die wêreld en in Suid-Afrika. 95% glo dat die jeug ’n belangrike rolspeler is in die verandering van ons land. 95% verstaan ook dat hulle lewe ’n impak het op die aarde en dat ons verantwoordelik met ons hulpbronne moet omgaan.

Teenstrydighede

Die studie bevind dat daar dikwels teenstrydighede bestaan in die lewens en denke van jong volwassenes. Alhoewel leierskap verantwoordelikhede gelyk gedeel word tussen hulle ouers in 46% van jong volwassenes se ouerhuise, glo die meerderheid (73%) in die patriargale leierskap formaat vir die gesin.  Soortgelyke teenstrydighede is bevind in jong volwassenes se idees oor versoening en kerk wees in Suid-Afrika.

Gedagtes uit ons gesprek

Vanuit die gesprek het duidelik geword dat die teenwoordige persone se ervaring van jong volwassenes nie so positief is as wat “Skokkend positief” bevind het nie. Daar is steeds jong volwassenes wat nie welkom voel in die ruimtes wat die NG-Kerk skep nie. Een van die redes hiervoor is waarskynlik die groot kontras wat hulle ervaar tussen die diversiteit van die wêreld en die homogene omgewing in die kerk. Gemeentes omarm dikwels nie diversiteit nie en vervreem mense deur ons taalgebruik en persepsies van bv. die samestelling van families. Gemeentes gebruik dikwels die Bybel om kulturele norms te bevorder. Ander gemeentes plaas andersyds klem op versoening, geregtigheid en diens wat weer sommige jong volwassenes “te veel” uitdaag omdat hul in ‘n gemaksone is.

Aktief of passief

Sommige jong volwassenes in gemeentes is aktiewe lidmate ander is weer passief (en sommige natuurlik tussen in). Ons moet dus onderskeiding maak oor wie ons praat. Die aktiewe lidmate vind in hul gemeentes ‘n ruimte om te dien, te aanbid en verhoudings te bou. Passiewe lidmate kom selde kerk toe en daar is lae vlakke van konneksie, diensbaarheid en roeping bewustheid. Die teenoorgestelde is waar van aktiewe lidmate.

Die passiewe lidmate bly deel van die kerk maar toon ooreenkomste met mense wat buite die kerk is. Passiewe jong volwasse lidmate is moontlik beïnvloed deur wat die kerk is / nie is nie of deur die verbruikersmentaliteit wat veroorsaak dat hulle die kerk gebruik wanneer hulle oordeel hulle dit nodig het. Daar is nog baie ander redes.

Idees vir die toekoms

Millennials heg baie waarde aan mentors en ouer persone se invloed, daarom het die kerk ’n geleentheid om juis op hierdie manier jong volwassenes te bedien. Deur mentor-programme en om ouers te bemagtig om hulle kinders te begelei in hulle geloofsvorming.

Die kerk het ook ’n geleentheid om jong volwassenes te begelei in die uitleef van hul geloof. In Suid-Afrika is dit veral belangrik in terme van versoening en diversiteit.

Dit is vir jong volwassenes belangrik om hul roeping uit te leef. In ons ervaring voel jongmense dat leierskapposisies nie beskikbaar is vir hulle nie. Jongmense moet spasie gegun word om hulle roeping uit te leef in gemeentes, om hulle te vertrou met verantwoordelikhede en magsposisies.

___________________________________________________________________________