Skip to main content
Jong Volwassenes

Nadenke oor jong volwassenes en die NG Kerk

By March 1, 2018October 23rd, 2023No Comments

 

Deel 1: ‘n Oorsig oor tendense

 

Hierdie artikel bied ‘n oorsig oor die verskillende redes hoekom jong volwassenes bly of nie bly in die NG Kerk nie, soos saamgestel uit ‘n gesprek van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap (van die Wes Kaap NG Kerk Sinode). Die byeenkoms is gehou in November 2017. Hierdie is deel van ‘n reeks van 4 artikels.

Inleiding

Hierdie artikel is saamgestel deur die groep meestal jong predikante in die Wes Kaap Sinode wat getaak is om vir die volgende twee jaar saam te dink en droom oor die bediening aan en deur die jong volwassenes. Hierdie groep noem hulself die Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLG).  Die eerste drie dag gesprek is gevoer vanuit 3 perspektiewe, naamlik die Amerikaanse navorsing van David Kinnaman van die Barna Institute, opgesom in sy boek “You Lost Me: Why Young Christians Are Leaving Church and Rethinking Faith”, Suid-Afrikaanse navorsing opgesom in die boek “Skokkend Positief – Insigte vanuit nuwe navorsing oor aktiewe Afrikaanse jeug” (redakteurs Malan Nel & Zander van der Westhuizen) en laastens ook die perspektiewe en ervaring van die deelnemers se eie belewenisse en gemeente kontekste.

Wie is die Jong Volwassenes waarvan ons praat?

Ons het tydens die gesprek die jong volwassenes opgedeel in drie verskillende groepe.

GROEP 1: Jong Volwassenes wat die NG Kerk verlaat en nie deel word van ander kerke nie

Volgens die Barna Institute se Amerikaanse navorsing is hierdie groep 60% in die VSA. Dié navorsing dui ook aan dat anders as in die verlede hierdie groep nie weer terugkeer na die kerk sodra hulle hul kinders doop nie. Die JVLG meen hierdie persentasie sal laer wees in Suid Afrika maar dat die tendense soortgelyk is.

Die redes waarom hulle die kerk verlaat val kan as volg opgesom word:

  • Rede 1: Gebrek aan konneksie (gebrek aan diepgaande verhoudings, mentorskap, dissipelskap en geloof belewenisse en groei)
  • Rede 2: Die kerk help nie om my geloof en lewe (roeping) te verbind aan mekaar nie
  • Rede 3: Ek glo nie meer nie as gevolg van my rede (wetenskaplike of teoretiese oorwegings) of as gevolg van my ervaring (seerkry in die kerk)

Let Wel dat indien rede 1 of 2 ter sprake is, persone hul steeds identifiseer as christene, al staan hulle los van die kerk.

GROEP 2: Jong volwassenes wat die NG Kerk verlaat maar in ander denominasies tuiskom

Sommige jong volwassenes beweeg direk na skool uit die NG Kerk na ‘n ander denominasie. Ander beland na ‘n tyd van rond beweeg tussen kerke  (“church hopping”) by ‘n ander denominasie. Daar is ook diegene wat na ‘n tydperk buite die kerk (kerklos) ‘n tuiste in ‘n ander denominasie vind.

Hiervoor is daar ook verskillende redes ter sprake by verskillende persone:

  • Rede 1: ‘n soeke na ‘n ander toelogie
  • Rede 2: ervaring in eredienste
  • Rede 3: groter konneksie (verhoudinge)
  • Rede 4: groter meelewing en diensgerigtheid
  • Rede 5: minder bagasie uit die verlede (nie die konneksie met apartheid nie)
  • Rede 6: meer diversiteit

Daar is nog ander redes ook genoem.

GROEP 3: Jong volwassenes wat bly in die NG Kerk

  • Rede 1: gemak
  • Rede 2: tradisie en waardering vir die NG kerk
  • Rede 3: gereformeerde teologie
  • Rede 4: konneksie
  • Rede 5: geleentheid vir diens
  • Rede 6: kinders se betrokkenheid

Hierdie groep wissel egter tussen passiewe lidmate en aktiewe lidmate. Passiewe lidmate kom selde kerk toe en daar is lae vlakke van konneksie, diensbaarheid en roeping bewustheid. Die teenoorgestelde is waar van aktiewe lidmate.

Slot

Wanneer ons dus ‘n gesprek voer in gemeentes is dit belangrik om uit te klaar of ons praat van jong volwassenes buite die kerk, binne ‘n ander kerk of binne ons eie kerk. Geen van hierdie groepe is homogeen nie, en ons moet bewus wees daarvan dat jong volwassenes vir verskillende redes gaan of bly. Wat wel duidelik is, is die volgende tendense:

  • Jong volwassenes soek diepgaande, eerlike, opregte verhoudings en konneksie
  • Jong volwassenes soek ‘n ruimte om ‘n eietydse uitdrukking van geloof te vorm en uit te leef
  • Jong volwassenes soek ‘n ruimte om moeilike kwessies te kan bespreek sonder oordeel
  • Jong volwassenes wil graag lewe met ‘n doel en wil graag ‘n praktiese verskil maak

Die Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLC) nooi jong volwassenes en die kerk uit om saam te dink en te gesels in die volgende twee jaar (November 2017 – November 2019) oor die bediening aan en deur jong volwassenes en saam te reis na ‘n Kerk van die Toekoms wat ook vir jong volwassenes ‘n tuiste is.

___________________________________________________________________________