Skip to main content
Kategese: HoërskoolKategese: Voorskool

my “image” – ‘n les oor identiteit

By July 11, 2017No Comments

My “IMAGE”

Ysbreker

Watter dinge is in jou omgewing (vriendekring of skool) belangrik vir mense se “image”? Dink aan tipe klere, musiek, woordeskat, aktiwiteite, attitude, haarstyl, ens?

Watter groepsdruk ervaar mense om die regte “image” te hê?

Skryf neer – watter 5 woorde sou ander mense gebruik om jou te beskryf.

watter 5 woorde sou JY kies om jouself (jou ware self) te beskryf?

gesels – is die woorde dieselfde of verskillend? hoekom?

 

Inleiding

Ons kyk baie kere na mense en die dinge wat hulle doen en dan besluit ons hoe hulle is. Jy kyk dalk na die ou wat baie gym en ek besluit dat hy bietjie dom is. Jy  kyk dalk na die meisie wat hokkie speel en besluit dat sy aggressief is. Wanneer ons dan oor mense begin praat, volgens die prentjie in ons koppe, begin ons ook om ander mense se persepsies te beïnvloed. Wanneer ons ander dan volgens ons persepsies behandel, kan ons hulle beïnvloed om dit te glo dat hulle wel is wie ons dink hulle is. Jesus doen dieselfde met ons, maar altyd in ‘n positiewe manier; hy praat en behandel ons op ‘n nuwe manier wat ons identiteit vorm. Sy oortuiging is egter nie beïnvloed deur wat ons doen nie, maar beïnvloed deur die waarheid dat God ons geskep het, ons liefhet en geroep het.

Luister: Lukas 19:1-10  JESUS EN SAGGEUS

Dink:

  • Wie was Saggeus volgens die mense?
  • Wat dink jy het Saggeus oor homself gedink?
  • Volgens Jesus, wie was Saggeus?
  • Watter effek het die manier waarop Jesus na Saggeus gekyk het op Saggeus se lewe gehad?
  • Op watter maniere kan jy jouself in Saggeus se skoene inleef?
  • Hoe beïnvloed hierdie verhaal die manier waarop jy na ander kyk?
  • wat beteken dit vir jou om jou “identiteit in Jesus” te vind?

Doen:

  • Elke keer wanneer jy vandag in ’n spieël kyk, sê vir jouself: “Ek is ’n kind van God. Ek is ’n vry mens.”

Bid:

  • Lees die teks weer stadig deur. Vra die Heilige Gees om ’n woord of ’n prentjie in jou gedagtes te laat opkom wat jou sal help om jouself te sien soos Hy jou sien, maar ook om ander mense te sien soos Hy hulle sien. 

Prakties:

  • Skryf jou naam van bo na onder op ’n skoon bladsy. Kry by elke letter van jou naam ’n woord wat een van jou beste eienskappe beskryf. Plak dit in jou kasdeur of enige plek waar jy dit gereeld sal raaksien om jou te herinner aan hoe God jou ook sien.
  • Dink aan iemand wat jy gewoonlik beoordeel omdat hy/sy anders is. Besluit om wanneer jy daardie persoon weer sien, hom/haar vriendelik te groet.

In jou familie:

  • Laat druk ’n foto van elkeen in jul familie. Laat almal in julle huis die mooiste of beste eienskap van die een op die foto agterop neerskryf, saam met ’n een-sin-gebed.
  • Soek ‘n boom wat net reg is vir boomklim. Hoeveel uit jul familie kan in die boom klim? Gesels daarna oor hoekom Saggeus in ‘n boom geklim het.

Vir meer oor jou identiteit in Christus besoek www.onsglo.co.za 

of laai die toep gratis af by die google playstore of appstore.