Skip to main content

Lydenstyd is ‘n seisoen in die kerkjaar waarin ons die lyding van Christus in herinnering roep en daarop reageer in voorbereiding op Paasfees.

Dit is 40 dae en 6 Sondae lank (die Sondae word nie by die 40 dae ingetel nie). Dit begin met Aswoensdag en strek tot en met Goeie Vrydag.

Lydenstyd wys by uitstek dat God op ‘n besonderse manier die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Christus in ons werklike nood ingedaal het.

Waar kom Lydenstyd vandaan?

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om as voorbereiding vir Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Die vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd per dag sonder vleis geëet is. Vandag nog sal gelowiges dikwels in hierdie tyd van iets vas (soos sosiale media, alkohol, koffie of vleis) of tyd opoffer in gebed met die doel om introspeksie te doen en te bid.

Tradisioneel begin die vastydperk op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n sondaar ‘n soort tughandeling en boete-oplegging van die kerk. Later het dit ‘n simboliese funksie gekry waarin die as, gewoonlik die vorige jaar se verbrande palmtakke van Palmsondag, op die voorkoppe van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Wat is die simboliek en kleure van Lydenstyd?

Die kruis is die sentrale simbool in Lydenstyd. Die kruis herinner ons aan die kruisiging van Jesus, ‘n teken van sy lyding en sterwe. ‘n Doringkroon of spykers kan saam met die kruis dien as simbole. ‘n Groot, wit kers met doringdraad daarom gedraai, beeld uit hoe Christus gekom het om bevryding te bring van watter menslike nood ook al. Die kleure van Lydenstyd is pers of wynrooi wat wys na Jesus se bloed en swart op Goeie Vrydag (swart is die kleur van rou en die dood).

Hoe vier ons dit?

In Lydenstyd word daar gefokus op die lyding van Jesus (veral tydens sy 40 dae in die woestyn) asook op die swaarkry en lyding in die wêreld. Christene gebruik hierdie tyd om hulself voor te berei op Paasfees deur introspeksie en sondebelydenis te doen. Ou kerkgewoontes soos vas, stilte en gebed het Christene oor die eeue hiermee gehelp.

Lydenstyd is ook ‘n tyd van hertoewyding. Daarom staan dissipelskap sentraal. Lydenstyd is daarom ook ‘n geleentheid vir toerusting vir dissipelskap en groei.

 

Vir meer idees oor hoe families die kerkjaar kan vier, bestel gerus die boek “Ons Huis Onthou: Families Vier Saam” (de Ridder en van der Westhuizen) by Bybel-Media:

Huisgeloof reeks 3 Ons huis onthou

Leave a Reply