Skip to main content

Hierdie is ‘n uittreksel uit die inleiding van die boek “Ons huis onthou – Families vier saam. 9 Kerkjaar aktiwiteite” geskryf deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen.

Wat is die Kerkjaar?

Die kerkjaar of liturgiese jaar is ‘n kalender van seisoene en feesdae wat deur Christene dwarsoor die wêreld in verskillende denominasies gevier word. In elke seisoen fokus die kerk op ‘n ander tyd in Jesus se lewe en gelowiges gesels saam oor gepaardgaande temas. Baie kerke lees ook bepaalde Bybeltekste en gebruik spesifieke kleure en simbole in elke seisoen.

Waar kom die Kerkjaar vandaan?

Die viering van godsdienstige feeste sien ons reeds in die Ou Testament. Jesus se koms het baie van hierdie feeste nuwe betekenis gegee soos Paasfees en Pinkster. Die viering van Jesus se lewe met verloop van ‘n jaar dateer uit die vroeë kerk en is mettertyd deur die geskiedenis van die kerk ingekleur.

Hoekom vier ons die Kerkjaar?

Die viering van die Kerkjaar is ‘n wonderlike manier om die tradisies en feeste van ons geloof saam as gemeentes te herdenk. Vir gesinne is dit ‘n geleentheid om saam te dink, te deel, te aanbid en geloofsgewoontes in te oefen. Die kleure, simboliek en tradisies wat met elke seisoen gepaardgaan is kindervriendelik en ‘n kreatiewe manier om oud en jonk te betrek by eeue oue geloofstradisies.

Watter seisoene en feeste is deel van die Kerkjaar?

Seisoen of fees

Tydperk van die jaar Fokus

Advent

Vier Sondae voor Kersfees en Kersdag

Ons berei voor om die koms en wederkoms van Jesus te herdenk en te vier.

Kersfees 25 Desember

Ons herdenk die geboorte van Jesus.

Epifanie

6 Januarie (die viering van die koms van die sterrekykers) tot met die Sondag voor Aswoensdag.

Ons herdenk Jesus se lewe op aarde tot voor sy lydenstyd.

Lydenstyd

6 weke (40 dae, Sondae uitgesluit) vanaf Aswoensdag tot met Goeie Vrydag.

Ons herdenk die lyding van Jesus.

Goeie Vrydag

Vrydag van Paasnaweek

Ons herdenk die kruisiging van Jesus.

Paasfees

Sondag van Paasnaweek

Ons herdenk Jesus se opstanding uit die dood.

Hemelvaart

10 dae voor Pinkster (40 dae na Paasfees) op ‘n Donderdag

Ons onthou Jesus wat na die hemel opgevaar het.

Pinkster

10 dae vanaf Hemelvaart tot met Pinkstersondag (Pinkstersondag is 50 dae na Paasfees).

Ons vier die uitstorting van die Heilige Gees.

Koninkrykstyd Die tyd na Pinkster tot met Advent.

Ons vier die heerskappy van Jesus.

Simboliek en kleure:

Kerkjaar seisoen of fees

Kleure Simboliek

Advent

Pienk, pers en blou Adventskrans

Kersfees

Wit en goud Christuskers en kriptoneel
Epifanie Wit (eerste week) en groen

Betlehemster

Lydenstyd
Goeie Vrydag

Wynrooi of pers

Swart

Menora of kandelaar met sewe arms

Kruis en doringkroon

Paasfees Wit of helder kleure

Blomme en leë graf

Hemelvaart

Wit

Wolke

Pinkster Rooi en goud

Vuur of vlam, duif

Koninkrykstyd Groen

Seilboot, aardbol, groen tak

Die natuur is vir die meeste gesinne ‘n maklike metafoor om te gebruik as ons oor die Kerkjaar nadink. Wanneer ons in die natuur is, is ons baie bewus van die seisoene en hoe hulle van mekaar verskil. Elke seisoen het kenmerkende eienskappe wat ons lewe op aarde beïnvloed. Net so het die Kerkjaar ook verskillende seisoene wat ons as gelowiges help om Jesus se lewe, dood, opstanding en heerskappy te vier.

Kry DinkJeug se Kerkjaar Kalender hier:

Kerkjaar Kalender

Meer oor die boek: Ons huis onthou

Die boek “Ons huis onthou – Families vier saam. 9 Kerkjaar aktiwiteite” is geskryf deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen.  Dié boek bemagtig ouers om saam met hulle kinders verskillende maniere te ontdek om in hulle geloof te groei.

“Ons huis onthou” vertel vir gesinne meer oor die agtergrond, betekenis, kleure en simbole van elke seisoen of fees wat deel van die Kerkjaar vorm. Die 9 Kerkjaar-aktiwiteite help gesinne om ’n ritme aan hulle geloofsvorming te gee en bewus te bly van God se nabyheid.

Wanneer ons die Kerkjaarseisoene en -feeste saam vier, daaroor gesels en ʼn ritueel of aktiwiteit daaraan koppel, raak ons opnuut bewus van God se reis met ons en ons kyk met ander oë na die wêreld.

Elkeen van die 9 hoofstukke in hierdie boek beskryf ‘n seisoen in die Kerkjaar of ‘n gepaardgaande fees en gee vir gesinne riglyne oor hoe om dit saam te herdenk:

  1. Advent
  2. Kersfees
  3. Epifanie
  4. Lydenstyd
  5. Paasfees
  6. Hemelvaart
  7. Pinkster
  8. Koninkrykstyd (Dissipelskap)
  9. Koninkrykstyd (Ekologie)

Die boek kan in verskillende ruimtes gebruik word om groepe of gesinne te help om oor ‘n spesifieke seisoen of fees in die Kerkjaar te dink, daaroor te gesels en dit saam te vier. Dit is spesifiek so geskryf dat ouers saam met kinders dit kan doen. Dit is toepaslik vir gesinne met voorskoolse, laerskool of hoërskool kinders.

Dit is verkrygbaar by Bybelmedia:
https://eshop.bybelmedia.org.za/product/huisgeloof-reeks-3-ons-huis-onthou/

Hierdie is die derde boekie in die huisgeloof-reeks.  Die boekies in die reeks is:

  1. Ons huis oefen – families glo saam. 9 Geloofsgewoontes
  2. Ons huis vier – families ontdek saam. 9 Geloofsmomente
  3. Ons huis onthou – families vier saam. 9 Kerkjaar aktiwiteite
  4. Ons huis dien – families leef saam. 9 Familiegewoontes

Leave a Reply