Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:9

By June 18, 2024No Comments

Dag 6: Rerig-erige geluk

Rerig-erig gelukkig wees beteken jy maak vrede 

Wat doen jy gewoonlik as jy kwaad is vir iemand of iets? Ek raak gewoonlik vinnig kwaad as ek sukkel met iets soos ‘n simpel skroefie wat nie weer in sy gaatjie wil gaan nie of as ek iets wil uithaal en dit sit vas…en meeste van die tyd breek ek dan ook iets…en is baie spyt! 

Het jy al ooit ‘n blikkie of botteltjie Coke geskud het en dit dan oopgemaak.  Dit spuit die wêreld vol en raak ‘n groot gemors!   Dit is ook wat gebeur as ons kwaad raak – ons borrel borrel en borrel hierbinne met klomp emosies en gevoelens en dan iewers kook dit oor…en ek weet nie van jou nie, maar dit laat my NOOIT lekker of gelukkig voel nie. 

Wanneer Jesus oor geluk praat sê Hy mense wat rerig-erig gelukkig is is mense wat vrede kan maak.  Vrede maak beteken nie ons praat slegte dinge wat mense doen of sê goed nie, NEE! Dit IS en BLY sleg, maar as vredemaker wil ons keer dat hulle en ons Cokeblikkies oorkook!  Ons wil daardie gemors keer wat kom as ons so kwaad raak en dinge breek en mense seermaak… Dit is nie ‘n maklike ding nie, en partykeer vat dit baie guts om ‘n vredemaker te wees, maar vir Jesus is mense wat vrede maak en vrede tussen mense soek mense wat rerig-erig geluk in hulle lewens het, want hulle is mense wat kinders van God is! 

In Matteus 5:9 sê Jesus:

“Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders.”

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Wat maak jou kwaad? 
  2. Wat maak dit moeilik om ‘n vredemaker te wees? 
  3. Wie is mense wat jy dink vredemakers is?

Kom ons bid saam.

Jesus,  ek raak baiekeer te gou kwaad oor dinge en dan is ek soos ‘n blikkie Coke wat oorkook en alles om my vuil en taai maak.  Jammer daaroor Here.  Help my asb om vandag nie so te wees nie, maar eerder ‘n vredemaker te wees wat vir mense gelukkig maak

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel is vir families:   

Dink terug aan al die dinge wat Jesus ons die week geleer het oor geluk.  Kies saam een ding om die naweek saam te oefen.  Gesels saam oor WAT en HOE julle dit gaan oefen, Byvoorbeeld: Ons wil vredemakers wees. As ons die naweek baklei gaan ons probeer om nie te raas en baklei nie, maar wil ons probeer om rustig saam ‘n oplossing te vind 

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply