Dag 5: Rerig-erige geluk
Rerig-erig gelukkig wees beteken ons sien Jesus orals raak
Een van die lekkerste liedjies op ons gesin se playlist is Lyfie van Bernice West. Ons luister en sing dit gereeld saam en dan lag ons vir ons almal se funny dansmoves! Liedjies laat ons baiekeer lekker voel – jy voel sommer iets hier binne in jou lyf en dan voel jy sommer bly! Het jy dalk so liedjie? Wat is dit?
Wanneer Jesus oor reig-erig gelukkigwees praat sê Hy ons moet rein van hart wees. Dit is vir my nog altyd moeilik om te verstaan, maar die laaste tyd maak dit vir my nogal sin. Rein van hart beteken dat ek soos Lyfie sê altyd, altyd, ALTYD sal weet ek dans en sing en hardloop en spring en sit en gaan skool en speel en eet en LEEF voor God, met ander woorde dat Hy altyd by my en IN my is. Ek kan met Hom gesels oor my seer en oor die lekker dinge en die funny dinge, want Hy is mos BINNE my! As ek dit weet kan ek sê – die Here het MY mooi gemaak! En kan ek ook na my seuntjies en vrou en ander mense kyk en raaksien dat Jesus HULLE ook mooi gemaak het – Hy het almal mooi gemaak en almal moet eintlik sien hulle dans en sing voor God! Jy SIEN – as jy “rein van hart” is kry jy ‘n ander manier van kyk…na jouself en na ander mense en dit is baie baie lekker en maak jou baie baie gelukkig, want jy sien en voel ook vir Jesus raak in jouself, in ander mense en ook in die Skepping!
Soos Jesus in Matteus 5:8 sê:
“Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.“
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Hoekom dink jy laat sekere liedjies ons so lekker voel oor die lewe?
- Wat dink jy bedoel Jesus met “rein van hart” wees?
- Hoe kan julle mekaar elke oggend herinner aan God se nabyheid?
Kom ons bid saam.
Here,ons sien U nie altyd raak nie, want ons harte is op klomp ander dinge ingestel – skool, werk, ons punte of sport. Help ons om vandag te besef ons hele lewe is U saam met ons en wil U eintlik ons laat dans en sing van vreugde. Help ons om te sien U het ons mooi gemaak, ons maats, ons familie, almal het U baie mooi gemaak en help ons veral om so na mekaar te kyk dat ons U sal begin sien – in onsself, ander en die pragtige Skepping!
Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel vir die hele familie vandag:
Soek “Lyfie” van Bernice West en dans dit as familie saam. Dans so mal en wild soos jy kan!
Mag die Here by elkeen wees en bly.