Dag 3: Rerig-erige geluk
Rerig-erig gelukkig wees beteken dat ons partykeer mag huil
Dink jy huil kan jou bly maak? Dit klink nie reg nie nê!
Einde verlede jaar het ons ‘n Oupa in ons familie verloor. Ons het baie gehuil en is maar nogsteeds hartseer, maar weet julle wat! Deesdae, al huil ons nog baie, voel ons beter, want Oupa was baie siek en het swaargekry en ons weet nou hy is nie meer siek of hartseer nie en dit maak ons bly! Dit is so asof Jesus ons troos!
Miskien het jy ookal iets of iemand verloor of al seergekry en jy het gehuil. Om werklik gelukkig te wees beteken dat ons mag huil en dat ons met Jesus oor ons hartseer kan gesels, want soos Jesus ons gister geleer het – ons het Hom nodig! Die lekker van vandag se vers is dat Jesus ons ook belowe dat Hy ons sal troos! Hoe lekker is dit om dit nie vandag te hoor nie – veral as ons dalk hartseer is!
Hoor wat sê Jesus in Matt 5:4:
“Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem.”
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Wat maak jou alles hartseer?
- Wat doen jy as jy hartseer is?
- Hoe dink jy wil Jesus ons troos as ons hartseer is?
Kom ons bid saam.
Here, dankie dat ek vandag kan hoor dat ek my hartseer met U kan deel en dat U my ook sal troos. Help my om as ek hartseer is sal weet U is altyd daar. Maak my ook om iemand te wees wat as my maatjies of familie hartseer is vir hulle sal help om te weet U wil mense help en troos
Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is ’n lekker voorstel vir families:
Kry ‘n boksie tissues/toiletpapier. Laat elkeen ietsie noem wat hulle hartseer maak terwyl hulle ‘n tissue/stukkie toiletpapier uithaal/afbreek en sit dit in ‘n bak/skottel/emmer. As almal ietsie gesê het bou saam ‘n kruis en laat iemand dan Matt 5:4 lees. Moedig mekaar aan om te gesels oor julle hartseer.
Mag die Here by elkeen wees en bly.