Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:33‭-‬37 (B)

By June 18, 2024No Comments

Dag 6: Die geheime kode vir gehoorsaamheid.

Daar was eendag n man met die naam Edward. Edward was baie goed met rekenaars en die internet. Hy het lank by n rekenaar maatskappy gewerk en hy het rekenaarprogramme geskryf wat die maatskappy gehelp het om uit te werk hoe mense hulle rekenaars gebruik en wat die rekenaarmaatskappy moet doen om te sorg dat mense meer van hulle rekenaars hou, wat sal sorg dat hulle meer rekenaars kan verkoop. Sy programme was geheime programme wat in die agtergrond werk.

Sy programme het so goed gewerk dat die Amerikaanse regering se spioenasie-afdeling vir hom gevra het om by hulle te kom werk, sodat hy amper dieselfde by hulle kon doen. Sy werk sou wees dat hy rekenaarprogramme skryf wat die manier hoe mense hulle rekenaars en selfone gebruik sou afloer. Daarna sou hulle kon uitvind wie skelms is en bewyse bymekaarmaak sonder dat hulle weet en hulle dan te vang terwyl hulle besig is met hulle skelmstreke.

Eddie het aan die begin gedink hy help op hierdie manier om die wêreld ‘n veiliger plek te maak, maar hy het toe agtergekom dat daar ‘n paar skelm mense in sy werkplek ook is en dat hulle ander goed van mense uitvind wat hulle nie nodig het om te weet nie.

Hy het later vir mense begin vertel dat hy nie hou van die manier hoe hulle gewone mense deur hulle eie rekenaars en selfone afloer en afluister nie. Edward se base het gedink hy oorreageer heeltemal en dat dit nie eintlik so erg is nie, maar Edward het gesê dat sy base wil God speel oor mense.

Edward het geweet dat as gewone mense alles weet van alle ander mense af, maak dit deure oop om nie net skelms te vang nie, maar om met skelmstreke gewone mense uit te vang en hulle geld te steel of onnodig in die moeilikheid te laat beland.

Maar Edward het daardeur ook iets van God verstaan wat Jesus vir sy vriende geleer het in die Bergrede – God is oral. God hoor en sien ons op alle plekke. Hy hoor en sien ons binne en buite. God sien wat ons doen en hoor wat ons sê. God weet ook wat in ons hart aangaan wanneer ons dit doen – of ons dit met ʼn opregte hart doen en of ons dit met bybedoelings doen. Kom ons luister saam na Matteus 5:33-37 (NLV)

Kom ons lees saam uit Matteus 5:33-37 (https://bible.com/af/bible/117/mat.5.33-37.NLV):

“Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Jesus sê dat God in die hemel en op die aarde is, en dat God in die stad of dorp is. Ek wonder hoe hierdie gedagte jou laat voel?
  2. Ons het gister hierdie gedeelte gebruik om te gesels oor waarheid en leuens. Dit kan ons ook laat dink oor die bedoelings waarmee ons goed doen. Hoe weet julle wanneer iemand iets doen met goeie bedoelings en hoe kom jy agter wanneer mense iets met verkeerde bedoelings doen?
  3. Dink aan Matt. 5:13-16 van verlede week waar Jesus sê dat sy mense soos sout en lig is. Ek wonder hoe opregte bedoelings ons hiermee help?

Kom ons bid saam.

Here Jesus, vandag bid ons saam met die Psalmskrywer (PSALMS 139:1-4, 23-24):

Here, U deursoek my en ken my.

U weet of ek sit en of ek opstaan,

U ken my gedagtes van ver af.

Of ek op pad is, en of ek gaan lê,

elke oomblik weet U waar ek is.

Selfs voordat ek praat, Here, weet U al presies wat ek gaan sê.

Deursoek my, o God, en ken my hart;

toets my en ken my onrustige gemoed.

Kyk of daar enige sondige neiging by my is,

en lei my op die ewige pad.

Amen

Doen nou die volgende saam. Hier is 2 voorstelle.

  • Die eerste voorstel is vir families: Die week se gewoonte was oom die waarheid te praat. Vertel vir mekaar of jy dit reggekry het om altyd die waarheid te praat. Wat het gebeur wanneer jy vir iemand gesê het dat jy nie heeltemal die waarheid gepraat het nie?
  • Die tweede voorstel is vir tieners en kinders: Oefen opregte bedoelings. Dink ʼn bietjie aan almal in julle huis en wat elkeen se hart bly maak, soos om ʼn guns vir iemand te doen of ʼn geskenkie vir iemand te gee. Baie kere doen ons sulke goed dat ander mense vir ons kan dankie sê. Doen vandag vir elkeen in die huis so iets sonder dat hulle weet dat dit jy is.

Mag die Here by elkeen wees en bly.

Leave a Reply