Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:33-37 (A)

By June 18, 2024No Comments

Dag 5: Die geheime kode vir betroubaarheid 

Julle het dalk al die storie gehoor van die skaapwagter-seun wat al die mense van die dorp se skape opgepas het. Terwyl hy so teen die heuwel gesit het, het hy baie verveeld geraak. Vir ʼn bietjie pret, het diep asem gehaal en geskree “Wolf! Wolf! Daar is ʼn wolf wat die skape jaag!” 

Die mense van die dorp het teen die bult op gehardloop om die wolf van die skape af weg te jaag, maar toe hulle bo-op die heuwel kom, toe was daar geen wolf nie. Die seuntjie het gedink dit is skreeusnaaks toe almal rooi in die gesig en uitasem daar voor hom staan.  Die dorpenaars het gebrom en gesê “Moenie ‘wolf’ skree wanneer daar nie ʼn wolf is nie” terwyl hulle weer teruggestap het na die dorp.  Na ʼn rukkie het die seun weer verveeld geraak en toe weer geskree “Wolf! Wolf! Die wolf jaag die skape.” Die dorpenaars het weer teen die bult op gehardloop, maar al wat hulle kon kry was die seuntjie wat rol van die lag. Die dorpenaars het kwaai vir die seuntjie gesê: “Moenie Wolf! skree wanneer daar niks is nie.” Die seuntjie het net aangehou lag terwyl die dorpenaars teen die bult afgeloop het.   Later, het hy ʼn regte wolf gesien wat die skaaptrop bekruip. Dadelik het hy opgespring en geskree: “Wolf! Wolf!  

Hierdie keer het die dorpenaars gedink die seuntjie is alweer besig om ʼn grap te maak en hulle het nie weer gehardloop om te gaan kyk nie.  Teen sononder het hulle gewonder wat aangaan toe die skaapwagter-seun nie met die skape teruggekom het dorp toe nie. Hulle het teen die bult opgestap en die seuntjie in trane in die veld gekry. Toe hulle vir hom vra wat aangaan het hy deur die trane geantwoord Daar was regtig ʼn wolf en die trop is uitmekaar gejaag. Ek het geroep en geroep maar niemand het gekom nie.  Toe hulle terugstap dorp toe het ʼn ou man die seuntjie gaan troos. Ons sal jou more help soek na die skape.” Toe sit hy sy arm om die seun se skouers en sê. Niemand glo ʼn leuenaar selfs wanneer hy die waarheid praat nie.  

Jesus leer vir mense byna dieselfde as deel van die geheime kode vir ʼn goeie lewe. Jesus sê wel net die oomblik wanneer jy vir iemand iets vertel en jy moet iets bylas soos, “ek belowe” of “gaan vra maar vir so-en-so.” Dan moet jy dalk dink oor of jy al in die verlede iets gedoen het wat mense laat wonder oor hoe jy met die waarheid omgaan. 

Kom ons luister saam na Matteus 5:33-37 (2020 Vertaling) 

Teksgedeelte Matteus 5:33-37 (2020 Vertaling)  (https://my.bible.com/bible/3499/MAT.5.33-37)  

‘“Verder het julle gehoor dat vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie ‘n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. ‘ 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Jesus sê eintlik vir mense dat wanneer jy “ja” sê moet mense weet dat dit regtig “ja” is. Wat laat mense wonder oor of jy die waarheid praat of nie? 
  2. Wat sal gebeur wanneer mense weet jy praat altyd die waarheid? 
  3. Wat maak ons wanneer die waarheid nie lekker is nie? 

Kom ons bid saam.

Here, help ons om soveel keer die waarheid te praat dat mense nooit sal wonder nie. Help ons om die waarheid op so manier te praat dat dit die lewe ʼn goeie plek sal maak.  

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 2 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families: Daar is ʼn baie ou fliek “Liar, Liar.” Kyk of julle dit kan opspoor en die naweek saam as familie kan kyk 
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Daar is ʼn hele klomp populêre liedjies oor leuens, bv. Imagine Dragons en Selena Gomez het elkeen ʼn liedjie met die naam Bad Liar, terwyl Camilla Cabello ʼn liedjie met die naam Liar sing en Shakira saam met Beyonce “Beautiful liar” saam sing. Luister na ʼn paar van die liedjies om te hoor wat die effek van eerlikheid en oneerlikheid op mense is.  

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply