Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:3

By June 18, 2024No Comments

Dag 2: Rerig-erige geluk

Rerig-Erig gelukkig wees begin by Jesus! 

Die laaste tyd het ons almal begin agterkom hoe nodig ons elektrisiteit het.  Ons kan regkom met kerse en kampliggies en gasstofies ens, maar as die beurtkrag te lank raak dan word ons almal vies en ongelukkig! 

En hoe lekker is dit nie as die elektrisiteit weer aangaan nie! Wow! Kom ons wees eerlik – ons het almal elektrisiteit nodig!  Baie, baie, baie nodig! 

As Jesus oor gelukkigwees gesels sê Hy daar is iets wat ons nog meer nodig het as elektrisiteit!  Kan jy raai wat – of eerder Wie ons die heel nodigste het om rerig-erig gelukkig te wees? Jy is reg!  Dit is Jesus!

Jesus leer ons dat as ons weet ons het God die nodigste in ons lewens raak ons werklik gelukkig.  Want Jesus leer ons dat God vir ons baie baie liefhet en vir ons sorg en oppas.   As ons weet ons het God die nodigste dan sal goed soos beurtkrag ons nie meer so baie pla nie, want ons weet God is steeds by ons daar in die donker en al kan ons nie TV kyk nie kan ons Jesus se liefde raak sien in die sonsak of die klein miertjies of saam met die mense wat ons liefhet tyd spandeer.  Dinge soos dit help ons alles onthou hoe lekker die lewe is met Hom as ons Koning!

Kom ons luister saam na Mattheus 5:3 uit die Bybel vir Almal vertaling: 

“Mense wat weet hulle het vir God nodig, is gelukkige mense, want God wat in die hemel is, is hulle Koning. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Watter dinge is daar waarsonder jy partykeer dink jy kan nie leef nie?  Dalk jou teddy of gunsteling karretjie of jou selfoon? 
  2. Waarom dink jy sê Jesus dat ons God die nodigste het om werklik gelukkig te wees? 
  3. Wat kan jou help herinner daaraan dat jy God nodig het?

Kom ons bid saam.

Here, baie dankie dat U vir ons leer wat dit beteken om werklik gelukkig te wees.  Jammer dat ons so baie ander dinge partykeer meer nodig het as U!  Help ons vandag om raak te sien dat ons U die nodigste het om werklik gelukkig te wees. 

Amen  

Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel vir families.  

As julle saam eet of Bybel lees vanaand, maak julle oë toe en haal 7 keer diep saam asem.  Gesels dan saam oor hoe julle mekaar kan herinner aan God se sorg en liefde. 

Mag die Here by elkeen wees en bly.

Leave a Reply