Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:3–9

By June 18, 2024No Comments

Dag 1: Rerig-erige geluk

Wie is werklik gelukkig? 

Wat maak jou gelukkig?  Dalk om te speel by maats, dalk lekkergoed of koekies of om jou gunsteling storie te kyk? 

Een ding wat my baie gelukkig maak, is pannekoek! MMM – as iemand net die woord sê, raak ek al baie bly… en honger! 

Het jy geweet dat die grootste pannekoek wat al ooit gemaak was 15 meter in deursnee was en 2,5 cm dik?!  Dit is amper drie double cab bakkies langs mekaar in deursnee en so dik soos jou duim. Hulle sê dit het 3 ton geweeg! 

Kyk, daardie pannekoek sou my nogal ‘n lekker lang tydjie gelukkig gehou het! 

Daar is baie dinge in die lewe wat ons gelukkig kan maak.  Maar ons almal weet ook dat al die dinge maar net vir ‘n kort tydjie hou – ons gunsteling storie het ‘n einde, jy raak moeg van speel en selfs die grootste pannekoek in die wêreld gaan sleg begin raak of opgeëet word. 

Om gelukkig te wees, hou eintlik maar net ‘n rukkie… 

Wat as ek vir jou vertel dat Jesus een keer gepraat het oor ‘n klomp dinge wat mens werklik gelukkig maak – soos in regtig egtig baie gelukkig!  Dinge wat jou vir baaaaaaaie langer gaan gelukkig hou as ‘n pannekoek. 

Ek wil jou uitnooi om saam met my die week by Jesus te hoor van 5 dinge ons regtig egtig gelukkig kan maak. 

Kom ons hoor wat Jesus sê in Matteus 5:3 – 9 uit die Bybel vir almal: 

3 “Mense wat weet hulle hetvir God nodig,is gelukkige mense,want God wat in die hemel is,is hulle Koning.

4 Mense wat nou hartseer is,is gelukkige mense,want God sal hulle hartseerwegneem.

5 Mense wat nederig isen wat op God vertrou,nie op hulleself nie,is gelukkige mense,want God sal vir hulledie aarde gee.

6 Mense wat baie graag wil doenwat God wil hê,is gelukkige mense,want God sal vir hulle helpom alles te doen wat Hy wil hê.

7 Mense wat goed is vir iemandwat swaarkry,is gelukkige mense.God sal vir hulle ook goed wees.

8 Mense wat net vir God dien,is gelukkige mense,want hulle sal God sien.

9 Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders.

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Wat maak jou alles gelukkig of bly? 
  2. Waarom dink jy wil Jesus ons help om werklik gelukkig te wees? 
  3. Wat dink jy van Jesus se lysie van gelukkige mense?

Kom ons bid saam. 

Here, dankie dat U ons wil help om werklik gelukkig te wees.  Help my die week om die dinge by U te ontdek en dit deel van my lewe te maak.  Dankie ook vir al die lekker dinge wat ons alreeds bly maak in ons lewens. Amen  

Doen nou die volgende saam.  

Bak pannekoek en eet dit saam met mekaar terwyl julle gesels oor dinge wat julle vandag gelukkig maak en dinge oor die week wat voorlê wat jou gelukkig en bly maak.  

Mag die Here by elkeen wees en bly.   

Leave a Reply