Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:27-30

By June 18, 2024No Comments

Dag 4: Die Geheime kode vir ander mense se goed 

Daar is ʼn Engelse gesegde wat sê “Comparison is the thief of joy.” Elke keer wanneer ons onsself vergelyk met ander mense, dan verloor ons iets van ons eie geluk. Dit gebeur veral wanneer mense iets het wat ons baie graag wil hê of wanneer ons dit reeds het, maar iemand anders kry ʼn beter of nuwer of mooier weergawe daarvan.  

Wat baie kere met my gebeur is dat ek eers sê “ag, ek het dit tog nie nodig nie” maar baie gou sal ek dalk ook dink, maar daai persoon het dit ook nie regtig nodig nie, en dan wonder ek hoekom hulle dit dan nou het. Dan dink ek by myself dat die persoon net wil dink dat hy/sy beter is as ek en dan begin ek lelike gedagtes oor daardie persoon dink… en julle weet wat gebeur wanneer jou kop vol gedagtes is – dit begin by jou mond uitkom. Ek sal dan sommer skinderstories vertel. 

Al die tyd wil ek eintlik net hê wat daardie persoon het, want ek dink dit gaan my lewe beter maak. Baie kere dink ek in my gedagtes dat dit wat ek het nie meer goed genoeg is nie. Ons kan dalk dink dat dit maak ook dat my lewe nie goed genoeg is nie en dat ek uitmis. Ons noem dit begeerte.  

Jesus se 12 dissipels was ʼn klomp groot mans en wanneer hy met hulle oor vergelyking en begeerte praat, praat hy oor iets wat hulle baie goed verstaan en dit is hulle verhouding met hulle vrouens.  

Kom ons luister saam na Matteus 5:27-30 (Die Boodskap): 

Teksgedeelte Matteus 5:27-30 (Die Boodskap) ( https://my.bible.com/bible/50/MAT.5.27-30 )  

‘“Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’  

“Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree.  

“Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?”’ 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Vertel van ʼn keer waar iemand iets gekry het wat beter of mooier of nuwer is as iets wat jy reeds gehad het.  
  2. Hoe laat dit vir jou voel wanneer Jesus sê dat jy eerder jou oog moet uitpluk of jou hand moet afkap om te keer dat jy verkeerde goed doen wanneer jy iets begeer? 
  3. Ek wonder hoe julle dit regkry om nie jaloers te raak of ander mense se goed te begeer nie? 

Kom ons bid saam.

Here Jesus, dis so maklik om ander mense se mooi en nuwe en beter goed raak te sien en dan heeltemal te vergeet dat u al vir ons so baie gegee het. Baie dankie vir alles wat u vir ons gee en vergewe ons wanneer ons ons lewens laat beheer deur begeerte. 

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 3 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families: Die vroeë kerk het al agtergekom dat die ding wat jou kan help om nie ander mense se goed te begeer nie, is om dankbaar te wees vir wat jy reeds het. Laat elkeen die drie goed noem waarvoor hy/sy dankbaar is.  
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Baie kere word ons begeerte aangevuur deur wat ons sien op sosiale media. Miskien kan jy vir ʼn volle dag van sosiale media vas. 
  • Die derde voorstel is vir kinders: Iemand het eendag gesê dat dit wat jy wil weggooi is waaroor iemand anders droom. Gaan deur jou speelgoed en/of jou klerekas. Watter speelgoed speel jy nie meer mee nie en watter klere dra jy nie meer nie, wat nog steeds mooi is wat jy kan weggee? Julle kan by julle kerkkantoor hoor vir wie julle dit kan gee. 

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply