Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:23-26

By June 18, 2024No Comments

Dag 3: Die geheime kode vir regmaak 

Eendag, toe ek nog in die hoërskool was, was ek en ʼn paar van my vriende saam met ons Biologie juffrou deel van ʼn water-projek. Vir die projek het ons skool die verantwoordelikheid gehad om ʼn deel van ʼn rivier wat daar naby verby gevloei het, sou versorg deur die rommel op te tel, die indringer plantegroei te verwyder en selfs inheemse plante rondom die rivier te plant.  

Die een Vrydag was dit weer tyd om die rommel langs die rivieroewer te gaan optel. Dit was ʼn verskriklike storie, want die rivier was baie vuil en ons het agter gekom dat daar iewers dalk riool ook in die rivier uitspoel, maar eers nadat ons al ʼn klomp goed uit die rivier gehaal het, soos ʼn winkeltrollie, ou komberse en baie winkelsakke. Ons het baie gou baie sleg geruik. 

Die snaakse ding was dat daar ook langs die rivier ʼn restourant was en ons het die dag juis ook van die werk oorkant die rivier van die restourant af gedoen. 

So in die loop van die middag het ons vir ons juffrou ʼn poets gebak en dit het haar laat skrik en halflyf in die vuil rivierwater laat val – voor die restourant. Juis op daardie oomblik kom ons toe ook agter dat van die skool se ander onderwysers daar was vir ʼn funksie saam met ander skole se onderwysers en sien hoe ons my juffrou laat skrik en hoe sy in die water val. Dit was natuurlik vir almal snaaks, behalwe my juffrou. 

Toe ons agterkom dat die mense wat lag ʼn klomp mense is wat ons juffrou ken het ons besef dat ons nou diep in die moeilikheid was. Ons juffrou het daardie middag nie weer met ons gepraat nie. Die Maandag by die skool het sy ons in die klas ook geïgnoreer. Vir ʼn week of wat was dit maar ongemaklik as ons by haar klas verbygeloop het, totdat een van my vriende die wysheid gehad het om te sê dat ons ons juffrou baie skaam laat kry het die middag by die rivier en dat ons gaan moet jammer sê en dinge regmaak.  

Ons het toe geld saam gegooi en vir ons juffrou ʼn reuse bos blomme en ʼn root sjokolade gaan koop en vir haar gaan sê ons dink ons het haar skaam gemaak voor die ander onderwysers en dat ons baie jammer daaroor was. Ons wou eerder weer op goeie voet met ons juffrou staan en verder deelneem aan die rivier-projek as om so ongemaklik in haar klas te wees.  

Sy het ons verskoning aanvaar en ons het daarna ʼn hele klomp lekker dinge weer saam met haar gedoen, selfs ʼn kamp in die Kruger Wildtuin, waar die veldwagters vir ons gewys het wat alles kan gebeur wanneer ons vir die rivier sorg.     

Jesus leer sy dissipels dat een deel van die geheime kode vir ʼn goeie lewe ook is om verhoudings reg te maak wanneer ons weet ons het iets verkeerd gedoen.  

Kom ons luister saam na Matteus 5:23-26 (Die Boodskap):

Teksgedeelte Matteus 5:23-26 (Die Boodskap) ( https://my.bible.com/bible/50/MAT.5.23-26 )

‘“Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring.  

“Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.”’ 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. In Jesus se voorbeeld lyk dit asof dit vir Jesus belangriker is dat ons verhoudings regmaak ander mense as om offers te bring. In ons taal vandag sou ons kan sê dat dit vir Jesus belangriker is dat ons stukkende verhoudings regmaak as om ons kerk-dinge te doen. Ek wonder hoekom dit so is?  
  2. Uit wat Jesus sê, wat dink julle sal gebeur wanneer ons nie verhoudings regmaak nie? 
  3. Vertel van ʼn keer toe jy vir iemand jammer gesê het oor iets wat jy gedoen het – wat het daarna gebeur? 

Kom ons bid saam.

Here Jesus, ons sien dat dit vir u belangrik is dat ons verhoudings regmaak. Help ons asseblief daarmee.  

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 2 voorstelle.  

  1. Die eerste voorstel is vir families: Die gewoonte vir die week is om die waarheid te praat – om eerlik te wees met jouself, maar ook eerlik te wees met ander mense.  Wanneer jy regtig eerlik is met jouself is dit makliker om te weet wanneer jy vir mense moet jammer sê om verhoudings reg te maak. Die huis is ʼn veilige plek om dit te oefen.  
  1. Die tweede voorstel is vir tieners: Die vriende wat jy aan die begin van graad 8 het en aan die einde van matriek het, is nie altyd dieselfde mense nie. Soms groei mense net uit mekaar uit. As dit al met jou gebeur het, stuur ʼn boodskap vir een van daai ou vriende en hoor sommer hoe dit gaan. As jy die moed het, vra vir daai persoon hoekom hy/sy dink julle vriendskap nie meer so sterk is nie.  

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply