Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:21-2

By June 18, 2024No Comments

Dag 2: Die geheime kode vir kwaad 

Miskien het jy al die fliek “Inside Out” gekyk. Inside Out is ʼn storie oor hoe ons emosies binne ons breine werk. Die hoofkarakter, Riley, se sterkste emosies was altyd “Sadness” en “Joy” en Joy is basies die hoofmeisie in Riley se brein. Toe Riley 11 jaar oud word het haar hele lewe verander, want hulle gesin moes trek. Wat buite Riley aangegaan het, het gemaak dat Sadness en Joy uit die beheersentrum van Riley se brein uitval en dat net Fear, Disgust en Anger oorgebly het.  

Anger het toe beheer geneem, want hoewel Fear en Disgust goeie bedoelings gehad het, was hulle te onseker om te weet wat om te doen. Anger het geweet dat dinge nou onregverdig is vir Riley en dat die beste ding sal wees om weer terug te gaan na waar alles in haar lewe goed was – in hulle vorige stad, tussen haar ou vriende en bekende omgewing. Daarom maak Anger die plan dat Riley moet wegloop.  

So sit woede ook binne-in ons elkeen en woede neem veral beheer wanneer dinge nie uitwerk soos ons dink dinge moet uitwerk nie. Wanneer iemand vir ons iets sê waarvan ons nie hou nie of wat ons nie verwag nie. Wanneer iemand iets doen wat ons seermaak. Wanneer iemand iets doen wat die lewe moeiliker maak as wat ons gedink het dit gaan wees, dan neem woede gewoonlik beheer in ons brein om ons te beskerm of om die vuur aan te steek wat dinge verander. 

Baie kere laat woede ons ook dinge doen wat weer ander mense seermaak, veral in die hitte van die oomblik met ons woorde. Ons sal sommer vir iemand ʼn lelike naam noem of lelike goed skree met die idee dat hulle anders sal optree of dinge sal regmaak. Maar dit het selde daardie effek. Dinge raak gewoonlik net erger en erger.  

Jesus se geheime kode is dat kwaad word en name noem so erg is soos om iemand dood te maak.   

Kom ons luister saam na Matteus 5:21-22 uit die Bybel vir Almal Vertaling:

Teksgedeelte Matteus 5:21-22 (ABA) (https://my.bible.com/bible/2/MAT.5.21-22)

‘“Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie iemand vermoor nie. As jy iemand vermoor, dan sal die hof jou straf.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad word, moet dit weet: Die hof sal hom straf. En elkeen wat vir sy broer sê: Jy is ‘n domkop, die Joodse Raad sal hom straf. En elkeen wat vir iemand sê: Jy is ‘n dwaas, hy sal brand in die vuur van die hel.’ 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Mense gebruik baie kere slegte en afbrekende name om ander te boelie. Hoekom dink julle is dit vir Jesus so erg soos moord om wanneer ons kwaad is mense uit te skel en name te noem? 
  2. Kwaad is baie kere ons emosie wat opkom wanneer ons voel dat dinge wat nou gebeur onregverdig is of nie reg nie, so dit is ook nodig dat ons kwaad moet word. Waaroor dink julle wil Jesus hê moet ons kwaad raak? 
  3. In Inside Out kry Anger vuur op sy kop wanneer hy wil hê dinge moet nou gebeur. Om kwaad te word is ook vir ons die vuur wat ons nodig het om dinge te verander. Wat maak jou kwaad? Wat gaan jy moet doen dat jou kwaad dinge beter sal maak? 

Kom ons bid saam. 

Here, ons kwaad maak dat ons baie kere lelike goed van mense sê. Help ons om kwaad te raak oor die regte dinge en dat ons kwaad sal help om dinge wat verkeerd is reg te maak.  

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 3 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families: Gee vir elkeen in die huis kans om te sê wat hulle kwaad maak. Die belangrike ding is om nie die ander in die rede te val nie. Probeer uitvind wat hulle kwaad maak en hoekom en maak dan saam ʼn plan om elkeen se kwaad beter te maak. 
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Wanneer jy kwaad word, probeer die ou metode van tel tot by tien voor jy iets sê of doen. As jy dan iets wil sê, wees eerlik deur te sê hierdie optrede maak my kwaad en probeer dan verduidelik wat jou ideale prentjie vir di omstandighede was en hoe die werklikheid nie daarby pas nie. Tussen mense wat vir jou omgee, sal daar ʼn oplossing kom. As dit ʼn situasie by die skool of ander plek is, gaan gesels eers met ʼn ander volwassene oor dit wat jou kwaad maak.  
  • Die derde voorstel is vir kinders: Soms weet ons nie mooi hoekom ons kwaad is nie, so ons kan nie mooi verduidelik hoe ons wil hê dinge moet beter wees nie. As jy kwaad is en nie weet hoekom nie, gaan na jou kamer toe, gaan lê op jou bed en skree so hard as wat jy kan in jou kussing, totdat jy voel die kwaad koel af.  

 Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply