Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:16,19-37

By June 18, 2024No Comments

Dag 1: Die geheime kode vir ʼn goeie lewe 

Het dit al met jou gebeur dat jy tussen maats sit en gesels, dan sê iemand iets en twee van die maats in die groep begin dan lag? As die res dan snaaks na hulle kyk en wonder wat aangaan, sal hulle sê daar is ʼn persoonlike grappie of ʼn “inside joke”. Dis asof hulle ʼn geheime kode het wat maak dat gewone goed vir hulle snaaks is. 

Ons stap die laaste paar weke saam deur Jesus se Bergrede. Dis ʼn klomp dinge wat Hy vir sy naaste vriende en volgelinge geleer het om, soos ons twee weke gelede gehoor het, rêrig-êrig gelukkig te wees. Verlede week het ons ook gehoor hoe Jesus en die Bybel prentjies en vergelykings gebruik om te wys hoe dit sal werk wanneer ons lewe soos Jesus wil hê ons moet lewe. Hierdie week kyk ons na die volgende gedeelte in die Bergrede waar Jesus vir sy dissipels baie prakties leer hoe om dit te doen wanneer ons elke dag in verhoudings met ander mense lewe.  

Dis byna soos ʼn persoonlike grappie of ʼn “inside joke” tussen vriende, of soos ʼn geheime kode. 

Jesus leer vir sy vriende eenkant en apart hoe hulle moet optree, juis sodat ander mense snaaks na hulle sal kyk en dan wonder hoekom hulle so maak. In baie gevalle – selfs vandag nog – is Jesus se manier van lewe so anders dat mense sal kopkrap en wonder: “Hoekom?” 

In die meeste gevalle sal Jesus se geheime kode maak dat sy vriende en volgelinge se verhoudings met ander mense beter sal wees en die wêreld ʼn beter plek sal maak. Die meeste van die tyd sal dit maak dat jyself ook beter oor die lewe voel en dit sal beteken dat jy ʼn goeie lewe het, selfs al is die lewe moeilik. 

Julle sal in die week se Bybel gedeeltes hoor dat Jesus sê “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is:” en dan gee Jesus een van die ou reëls en wette, maar dan sal Jesus sê: “Maar Ek sê vir julle:” en dan gee hy ʼn reël of ʼn wet wat eintlik baie moeiliker is. Daarin lê die geheime kode – om op maniere op te tree wat veel beter is as wat ander mense dink jy hoef te doen.     

Kom ons luister saam na die week se gedeelte, maar ons begin ʼn paar verse vantevore om te hoor waar dit vandaan kom en waarmee Jesus op pad is.  

Teksgedeelte: Matteus 5:16,19-37  

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”  

“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” 

 EN

‘“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.  

“As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”  

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.  

“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”  

“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”  

“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ‘n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”  

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. As jy so na die verskillende temas luister waaroor Jesus praat, met watter een het jy al gesukkel? 
  2. Het julle agter gekom dat al die goed wat Jesus hier leer gaan oor hoe ons met ander mense is? Ek wonder hoekom gehoorsaamheid aan God beteken dat ons mooi moet werk met ander mense?

Gewoonte vir die week: 

Die gewoonte vir die week is om die waarheid te praat. Die meeste van die week se temas gaan oor eerlikheid – om eerlik te wees met jouself, maar ook eerlik te wees met ander mense. Kom ons oefen die week om die waarheid te praat. As jy agterkom jy sê iets wat nie heeltemal die waarheid is nie, stop jou sin deur te sê “Ek is nie nou heeltemal eerlik nie. Wat ek eintlik wil sê is…” en dan praat jy die waarheid. Jy sal verbaas wees hoe goed mense daarop gaan reageer.  

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply