Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 5:13-16 (B)

By June 18, 2024No Comments

Dag 2: Julle is soos… lig 

Weet julle wat beteken dit om ‘n kersie se lig te sien flikker in ‘n venster?  In die tyd toe mense ver van mekaar af gebly het, en daar nie straatligte was nie(ook nie loadshedding nie!), het mense ‘n kersie laat brand in die vensterbank.  Dit was ‘n ligbaken vir vreemdelinge wat die dorp inkom in die nag om te weet by watter huis daar vir hulle kos en iets te drinke beskikbaar sou wees, of sodat jy jou eie huis in die donker kan vind as jy buite was.  Selfs die kleinste liggie is sigbaar wanneer dit baie donker is, ‘n mens kan nie ‘n liggie keer om lig te maak nie.  Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle die lig vir die wêreld is, maar ook gesê soos wat hulle NIE moet wees NIE! 

Kom ons luister weer na Matt 5:13-16 

13 “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. 

14 “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.  

  1. Dink aan ‘n keer wat julle in die nag gery het op ‘n donker plek en van ver af die liggies van ‘n dorp kon sien, hoe het dit gelyk en hoe het dit julle laat voel? 
  2. Jesus sê die goeie dinge wat ons doen is soos ‘n lig wat skyn.  Watter dinge dink jy moet ons doen wat soos ‘n lig kan wees vir ander? 
  3. Hoekom dink jy sal mense lig wil wegsteek? 

Kom ons bid saam. 

Liewe Here, dankie dat U vir ons soos lig gemaak het, help ons om helder te skyn vir U.

Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 3 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families:  Speel ‘n ligwegkruip speletjie.  Gee iemand kans om ‘n liggie wat brand te gaan wegsteek in die donker huis(sit al die ligte af).  Kyk hoe lank dit neem om die liggie te kry! 
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Soek op die internet ‘n foto van hoe die aarde van ver af lyk in die nag.  Probeer jouself indink hoe die aarde sal lyk as elke ligkolletjie iets goeds wat mense doen voorstel.    
  • Die derde voorstel is vir kinders: Sing die liedjie:  Laat ons skyn vir Jesus of This little light of mine 

Mag die Here Jesus wat jou roep om soos lig te wees, by jou wees en bly.   

Leave a Reply