Dag 1: Julle is soos… sout
Het julle al gehoor dat iemand sê sy het soos ‘n klip geslaap, of hy is so honger soos ‘n wolf, die vloer is so glad soos seep, of sy oë is so waterig soos ‘n fonteinpadda…?! Van hierdie “soos” vergelykings is nogals snaaks, en die rede daarvoor is dit skep ‘n prentjie in jou kop – jy verbeel jou jy sien hoe iemand gly op die vloer omdat dit so glad soos seep is, of jy probeer jou indink hoe die fonteinpadda se oë dan lyk! ‘n Vergelyking help ons om beter te verstaan.
Jesus het baie keer vergelykings gebruik, saam met gelykenisse en stories, om vir die mense om Hom beter te verduidelik wat Hy sê. ‘n Vergelyking werk goed as die item, dier of situasie iets is waarvan jy iets weet, want dit help jou om ‘n prentjie te sien van wat Jesus bedoel het. Jesus het altyd voorbeelde gebruik wat die mense met wie Hy praat, kon ken en verstaan. Hierdie week kyk ons na die verskillende beelde wat Jesus gebruik om met ons te praat.
Kom ons lees Matt 5:13-16
13 “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14 “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Maak gou ‘n lysie van waar ‘n mens oral sout gebruik
- Vertel vir mekaar hoe kos smaak wat nie sout op het nie, soos springmielies of steak
- Hoe is ons sout vir die wêreld?
Kom ons bid saam.
Here, maak my soos sout vir die wêreld. Amen
Doen nou die volgende saam:
Sout is nie net om kos te laat beter smaak nie, maar kan ook kos bewaar en langer laat hou, of kan soos ‘n ontsmettingsmiddel gebruik word. Gesels oor die verskillende gebruike vir sout, en dink aan maniere waarop julle in julle dorp soos sout kan wees.
Mag die Here Jesus wat jou roep om soos sout te wees, by jou wees en bly.