Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 4:18-22 (Gestuur: Dag 6)

By June 14, 2024No Comments

Dag 6: Gestuur

Maak ‘n verskil 

Dis die begin van die jaar en baie mense het goeie voornemens om weer te begin oefen. Dalk het jy ook ‘n atletiekdag wat voorlê of ‘n spansport wat afgeskop het en jy het al begin om om die blok te draf en fiks te word. 

Ek het aan die begin van die jaar splinternuwe tekkies gekry. En dit het my gemotiveer om sommer dadelik weer aan die oefen te kom. Want wat is die nut van nuwe tekkies as dit in die kas bly lê? Of wat is die nut daarvan as jy baie praat oor hoe jy iets gaan doen, maar dit nooit begin doen nie? Soos byvoorbeeld, as julle saam as ‘n span oefen, maar nooit ‘n wedstryd speel nie. Die doel van sport is tog nie net die voorbereiding nie, maar die praktiese uitleef daarvan. 

Net so, kan ons nie nét saamgesels oor dissipelskap, liefde en diens nie.  Ons word ook deur Jesus se voorbeeld uitgedaag as dissipels om ons liefde en diens uit te leef en só ‘n praktiese verskil in die wêreld te maak. Ons kan nie net sê ons is dissipels nie, ons moet ook leef as dissipels en vissers van mense word. 

Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22. 

Roeping van die eerste dissipels 

18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19 Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 

21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg. 

 Gesels nou saam oor die volgende vrae.  

  1. Wat bedoel Jesus as Hy sê dat Hy hulle “vissers van mense” gaan maak? 
  2. Watter verskil dink jy het die dissipels op die ou end gemaak deur hulle lewens? 
  3. Op watter verskillende maniere kan ‘n mens ‘n verskil maak in die wêreld  vandag? Kyk of julle ‘n lysie kan maak met praktiese idees. 

Kom ons bid saam. 

Steek ‘n kers aan en bid die gebed van St. Franciscus van Assisi saam as gesin deur die teks onderaan te lees. 

Here, 

Maak my ‘n instrument van u vrede. 

Waar daar haat is, laat ek liefde bring. 

Waar daar foute is, laat ek vergifnis bring. 

Waar daar twyfel is, laat ek geloof bring. 

Waar daar nie hoop is nie, laat ek hoop bring. 

Waar daar donker is, laat ek lig bring. 

Waar daar hartseer is, laat ek vreugde bring. 

Here, 

Laat ek ander troos, eerder as om self getroos te wil word. 

Laat ek ander verstaan, eerder as om verstaan te wil word. 

Laat ek lief wees vir ander, eerder as om liefgehê te wil word. 

Want deur te gee, kry ek. 

Deur te vergewe, word ek vergewe. 

Deur te sterf, sal ek ewig lewe. 

Amen 

Doen nou die volgende saam: hier is 2 idees 

  1. Vind uit of daar nie reeds ‘n kerk of ‘n organisasie is wat in julle gemeenskap ‘n verskil maak waarby julle as gesin kan aansluit of vir wie julle kan help. Vind ook uit wat word in jul omgewing gedoen vir mense wat op straat woon en ondersteun dié projekte. 
  1. Nooi nog ‘n paar gesinne uit om die Dinkjeug Familie App te gebruik deur die skakels vir hulle aan te stuur. Google Play skakel en die Apple iStore skakel

Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen 

Leave a Reply