Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 4:18-22 (Gestuur: Dag 5)

By June 14, 2024No Comments

Dag 5: Geroep

Sien Jesus raak in die alledaagse 

Almal slaap nog rustig. Karel du Toit word wakker met ’n tevrede gevoel in sy hart en hy voel uitgerus. Hy kyk op sy horlosie om te sien hoe lank hy nog kan lê…. Hy besef met ‘n skok, dit is alreeds 06:55! Die wekker het nie afgegaan nie en hulle het twintig minute om almal uit die bed, aangetrek en by die skool te kry. Hy het ’n vergadering waarvoor hy nie laat kan wees nie. Hy spring-val uit die bed uit en bulder so hart as wat hy kan: “Ons is laat! Ons moet opstaan, dis amper 07:00!” So begin die nuwe dag.  Op pad skool toe is Karel reeds besig om in sy gedagtes sy eerste vergadering vir die dag te beplan. Die tweeling, wat op die agterste sitplek sit, probeer sy aandag kry. Hy verstaan nie wat hulle beduie nie en is geïrriteerd dat hulle sy gedagtegang onderbreek. Net betyds sien hy egter uit die hoek van sy oog die reënboog wat hulle opgewonde vir hom probeer wys. Hy het die oomblik amper gemis. 

Ons leef dikwels so haastig en is so gefokus op elke dag se take en gebeure, dat ons sukkel om Jesus in die alledaagse dinge raak te sien. Jesus reis egter elke dag saam met ons, en is elke oomblik in ons lewe teenwoordig. Kom ons dink saam oor hoe ons Jesus in die alledaagse klein dingetjies kan beleef en meer bewustelik kan lewe. 

Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22. 

Roeping van die eerste dissipels 

18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19 Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 

21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Hoe dink jy dit het gevoel om Jesus fisies elke dag by jou te hê? 
  2. Watter dinge help jou in ‘n gewone dag om bewus te raak van Jesus wat naby jou is? 
  3. Watter dinge laat jou vergeet of Jesus miskyk? 

Kom ons bid saam. 

Maak ‘n vissie op mekaar se hande en seën mekaar met die woorde: “Jesus het jou lief. Hy het jou gekies en gestuur as sy dissipel.” 

Bid ook en sê dankie vir een alledaagse ding wat jou vandag gehelp het om Jesus raak te sien. Amen 

Doen nou die volgende saam: 

  1. As jy vandag iewers heen stap of ry, kyk hoeveel lewende dinge jy kan raaksien in die omgewing om jou – dalk blomme, diere, of ‘n boom. Hoe maak die aktiwiteit jou meer bewus van jou omgewing?
  2. Julle kan seker nou al die dissipels se name noem? Volg die skakel om ‘n stel dissipel kaarte af te laai as julle dit nog nie gedoen het nie. 

Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen

Leave a Reply