Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 4:18-22 (Gestuur: Dag 4)

By June 14, 2024No Comments

Dag 4: Gestuur

Ondersteun mekaar in swaarkry tye 

Ek wonder of jy al ooit per ongeluk ‘n skyfie pomelo geëet het en gedink het dis ‘n lemoen? Ja, ‘n mens is dan verras deur die bitter smaak wat jy glad nie verwag het nie. Of jy het dalk ‘n wurmlekker gekry by jou maatjie, en nie besef dis ‘n suurwurm nie. Dan trek ‘n mens se mond skeef van die suurheid wat jy nie verwag het nie. 

Ons lees hierdie week die verhaal van die roeping van Jesus se eerste dissipels. Dit was ‘n wonderlike voorreg om Jesus se dissipel te wees, Maar dit was nie altyd maklik gewees vir hulle om Jesus se dissipels te wees nie. Hulle het hulle werk en families agtergelaat om Jesus te volg. Hulle het buite geslaap en geen besittings gehad nie. Hulle was afhanklik van ander om vir hulle kos te gee. En na Jesus se dood is hulle ook vervolg. 

Om Jesus se dissipel te wees beteken nie dat alles net goed gaan nie. Ons beleef ook soms swaarkrytye. Maar ons weet Jesus is by ons wanneer ons ook deur hierdie moeilike of bitter tye gaan. 

Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22. 

Roeping van die eerstedissipels

18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19 Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg.

21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Kan jy dink aan ‘n bitter / suur tyd wat jy al beleef het?  
  2. Wat laat ‘n mens hartseer of kwaad voel? 
  3. Waar dink jy is die Here as jy so voel? 
  4. Op watter maniere voel ons dat God by ons is?

Kom ons bid saam.

Maak ‘n vissie op mekaar se hande en seën mekaar met die woorde “Jesus het jou lief. Hy het jou gekies en gestuur as sy dissipel.” 

Bid ook vir mekaar se hartseer tye of swaarkry en ondersteun mekaar. Amen 

Doen nou die volgende saam: 

Is daar iemand wat hartseer is vir wie julle kan gaan troos? Hoe kan julle dit prakties doen? 

Tweedens, kyk hoeveel dissipels se name en feite julle kan opnoem. Volg die skakel om ‘n stel dissipel kaarte af te laai om julle hiermee te help. 

Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen 

Leave a Reply