Dag 3: Gestuur
Vier die goeie!
Het jy al ooit gewonder waar die gewoonte vandaan kom om ‘n glasie te klink en ‘n heildronk in te stel by ‘n belangrike gebeurtenis of ete? Die woord “cheers” kom van die ou Franse woord “chiere” wat beteken blydskap. Deur ‘n glasie te klink en “cheers” te sê, was ‘n manier om mekaar aan te moedig en om eenheid en oorwinning te vier.
God het vir ons gawes en talente gegee wat ons tot sy eer kan gebruik. Wanneer ons oorwinnings in die lewe behaal, is dit iets om te vier. Oorwinnings is divers en verskil vir elke persoon, bv. ’n baba wat die eerste keer loop, verbetering in skoolwerk of ‘n kind wat leer fiets ry.
Ronald Adams is 18 jaar oud en sy grootste wens is om sy bestuurslisensie te kry. Na drie keer se onsuksesvolle pogings om die rytoets deur te kom, is die hele Adams gesin al moedeloos. Hulle het al alles probeer, selfs ekstra rylesse en hope ondersteuning. Die vierde toets lê voor en almal wens vir Ronald sterkte toe. En toe, tot almal se verbasing, kom Ronald by die huis aan met die wonderlike nuus – hy is nou ‘n wettige bestuurder! Daardie aand word die vonkelwyn uitgehaal en almal klink ‘n glasie op die groot oorwinning. Almal deel in sy vreugde en vertel hul eie stories van toe hulle moes leer bestuur. Oupa Peter het so ver gegaan om spesiaal vir hom Psalm 23 as ‘n gebed uit te skryf en te oorhandig. Ronald het baie spesiaal en trots gevoel.
Ons lees hierdie week die teks van waar die dissipels se reis saam met Jesus begin het…
Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22.
Roeping van die eerste dissipels
18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broersgesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sybroer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uittegooi, want hulle was vissers.19 Hy sêvirhulle: “Volg My, en Ek saljullevissers van mensemaak!”20 Hulle het onmiddellikhullenettegelosen Hom gevolg.
21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Hoe dink julle het dit gevoel om as dissipel elke dag die lewe saam met Jesus te deel en saam met Hom te woon en te reis?
- Watter prestasies of oorwinnings het julle onlangs gevier?
- Kan julle aan iets goed dink wat gebeur het wat julle nog nie gevier het nie?
- Hoe voel dit vir jou om te weet Jesus is altyd by jou?
Kom ons bid saam.
Maak ‘n vissie op mekaar se hande en seën mekaar met die woorde: “Jesus het jou lief. Hy het jou gekies en gestuur as sy dissipel.”
Bid ook en sê dankie vir die oorwinnings en goeie dinge in julle lewe! Amen
Doen nou die volgende saam: Hier is 2 idees
- Skink vanaand lekker drinkgoed in spesiale glase en sê ‘cheers’ op die mooi dinge en prestasies wat julle die afgelope tyd beleef het.
- Kyk hoeveel dissipels se name en feite julle kan opnoem. Volg die skakel om ‘n stel dissipel kaarte af te laai om julle hiermee te help.
Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen