Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 4:18-22 (Gestuur: Dag 2)

By June 14, 2024No Comments

Dag 2: Gestuur

Maak ‘n commitment 

Karen Malherbe kom opgewonde na haar Graad 8 kerk kamp by die huis aan. Sy vertel aan haar ma hoe spesiaal die Saterdagaand vir haar was toe hulle om die kampvuur gesit het en na die sterre gekyk het. “Ons het ‘n geleentheid gekry om ons lewens vir die Here te gee en terwyl ek na die vlamme kyk, het ek net geweet dat Jesus met my praat,” vertel sy. Haar ma kry trane in haar oë as sy na Karen se spesiale ervaring luister en onthou hoe sy self by ‘n kruis langs die see, op ‘n skoolverlaterskamp, ‘n klip gepak het om haar verbintenis aan die Here te simboliseer. Hulle bid saam en sê vir God dankie dat Hy op spesiale maniere vir ons kom herinner aan sy reis met ons en dat Hy ons help om ons lewe aan Hom te gee. Karen besluit om ‘n klip wat sy by die kamp opgetel het op haar lessenaar te sit waar sy haar huiswerk doen, sodat sy elke dag kan onthou van God se liefde vir haar. 

Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22. 

Roeping van die eerste dissipels 

18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 

21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Wat staan vir jou uit van hierdie verhaal waar Jesus sy eerste dissipels roep? 
  2. Wat dink jy beteken dit vandag om te besluit  om die Here te volg?  
  3. Watter commitment wil jy vandag maak in reaksie op die Here se roepstem? 
  • Jy wil dalk (opnuut) besluit om jou lewe vir Jesus te gee 
  • Jy wil dalk jou self opnuut toewy na ’n moeilike tyd in jou lewe 
  • Jy wil dalk dankie sê vir iets 
  • Jy wil dalk ‘n commitment maak om iets spesifiek vir Jesus te doen.

Gesels met mekaar oor jou keuse. 

Kom ons bid saam. 

Maak ‘n vissie op mekaar se hande en seën mekaar met die woorde: “Jesus het jou lief. Hy het jou gekies en gestuur as sy dissipel.” 

Doen nou die volgende saam: Hier is 2 idees 

  1. As een of meer van julle ‘n groot commitment gemaak het, kan julle die datum iewers neerskryf om te onthou.
  2. Leer hierdie week die dissipels se name en ‘n feit oor elkeen. Volg die skakel om ‘n stel dissipel kaarte af te laai om julle hiermee te help.

Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen 

 

Leave a Reply