Dag 1: Gestuur
Neem ‘n foto
Wanneer ons iets wil onthou, neem ons ‘n foto met ‘n kamera of ons selfoon. Mense geniet dit veral om foto’s van belangrike dae ook op sosiale media te plaas – veral wanneer ons van iets afskeid neem (bv. laaste dag by die werk, laaste dag in die skool, laaste dag in jou ou huis voor jy verhuis) of wanneer ons iets nuut begin (‘n nuwe skooljaar, ‘n nuwe werk, ‘n nuwe baba of ‘n nuwe troeteldier) of wanneer daar ‘n spesiale dag in ons lewe is (bv. ‘n verjaarsdag of huweliksherdenking).
Dalk het jy ook onlangs ‘n foto geneem om die begin van ‘n nuwe jaar te vier of dalk het jy ook soos ek onlangs verjaar en die spesiale dag afgeneem. Druk nou die pause knoppie en gesels oor die spesiale dae wat jy onlangs gevier het en kyk gerus weer na die foto’s daarvan.
Ek wonder hoe die dissipels gevoel het toe hulle deur Jesus geroep is om Hom te volg? Ek wonder wat hulle gedink het toe Jesus gesê het Hy gaan hulle vissers van mense maak? En hoe sou dit gewees het as die dissipels selfone gehad het en foto’s van die oomblik kon neem? Hulle sou sekerlik die belangrikste dag van hulle lewe wou afneem en iewers op sosiale media plaas sodat hulle dit nooit sou vergeet nie. Dalk as #vissersvanmense of #lifechanging of #adventureswithjesus
Kom ons lees saam die verhaal van die roeping van die eerste dissipels in Matteus 4:18-22.
Roeping van die eerste dissipels
18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om ‘n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. 19 Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” 20 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg.
21 Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. 22 Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Vissermanne was nie bekend daarvoor dat hulle slim was of baie godsdienstig was nie. Hoekom dink jy het Jesus hulle juis geroep?
- Hoe dink jy het hulle gevoel toe Jesus hulle roep?
- Watter ‘hashtag’ sou jy geplaas het oor die dag as jy ‘n dissipels was en daar al fone en internet beskikbaar was om ‘n foto te neem?
Kom ons bid saam.
Maak ‘n vissie op mekaar se hande en seën mekaar met die woorde: “Jesus het jou lief. Hy het jou gekies en gestuur as sy dissipel.”
Doen nou die volgende saam: Hier is ‘n idee.
Leer hierdie week die dissipels se name en ‘n feit oor elkeen. Volg die skakel om ‘n stel dissipel kaarte af te laai om julle hiermee te help.
Die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, stuur jou uit met sy liefde en vrede. Amen