Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 3:13-17 (B)

By June 14, 2024No Comments

Dag 2: Doop

Geliefd – jy is gedoop 

Ek wil julle vertel van die Plaatjies gesin – hulle het ‘n erediens bygewoon waarin ‘n baba gedoop is. Op pad terug in die motor gesels hulle daaroor en Willie wou toe weet – watter sin maak dit om ‘n baba te doop? Hulle verstaan niks. Hulle kan mos nie kies om gedoop te word of nie. En hy wat Willie is, onthou in elk geval niks van sy doop nie.    

Willie se pa, Trevor, luister aandagtig na sy seun. Hy gaan haal ‘n banknoot en vra vir Willie wat dit is. Willie sê: “R100 natuurlik!” “En hoeveel is dit werd?” vra Trevor sy seun. “Hoe bedoel Pa nou?” antwoord Willie. “Dis R100 werd!” Trevor vra hom hoe hy seker is dis ‘n egte noot en Willie wys vir hom die watermerk… hiervan het hulle al by die skool geleer…  hou dit teen die lig – so… en sowaar, daar kan hulle die gesig van Nelson Mandela sien – dis die watermerk wat wys dis ‘n regte egte noot. 

Pa Trevor glimlag en verduidelik vir Willie – die doop is soos ‘n watermark – dit wys jy is deel van God se familie, en dat Hy jou gekies het. Dit is ‘n teken, ‘n waarborg van God se liefde en sorg vir jou. En dié belofte het die Here vir jou gegee, nog voordat jy verstand gekry het, van die begin af stap Hy die pad met jou. Al voordat jy Hom kon kies, het Hy jou eerste gekies. En daarom kan babas ook gedoop word – want dit gaan oor God se beloftes aan jou. 

 Ek wonder of jy al ook soos Willie gewonder het wat dit vir jou beteken dat jy gedoop is. Vir my beteken dit, dat God vir my gekies het en baie liefhet en my deel maak van sy familie. Al voor ek vir God kon kies, het Hy eerste vir my gekies. En ook vir jou. Jy is sy geliefde kind. Hy gee om vir jou en is opgewonde oor jou. 

 Kom ons lees die verhaal van Jesus se doop in Matt 3:13-17 

Die doop van Jesus 

13 In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” 

15 Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” 

Daarna het Johannes ingestem. 16 Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17 Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

Vertel vir mekaar stories van jou doop. Dalk was jy ‘n baba en moet jy iemand vra om jou te vertel wat daar gebeur het. As jy nie gedoop is nie, kan jy steeds oor die beloftes / boodskap van die doop gesels. 

  1. Kyk weer na die teks – kan jy sien hoe God Drie-enig – God die Vader, Jesus en die Heilige Gees – al 3 deel is van die verhaal? 
  2. Wat beteken dit vir jou om te weet dat God Drie-enig nog altyd deel is van jou storie en jou eerste liefgehad het? 

Kom ons bid saam. 

Sê dankie vir God deur te begin met die woorde “Dankie, Jesus, dat ek deel is van u familie…” 

Doen nou die volgende saam.  

  • Kyk saam na doopfoto’s wat julle mag hê. Indien julle ’n dooprok of klere het, kan julle dit ook vir mekaar wys. Vertel mekaar die verhale van elkeen se doop. Maak moeite om oor elkeen te praat. Ouers moet hulle kinders ook van hulle eie dope vertel.  
  • Indien julle nie foto’s het nie of almal nie gedoop is nie, vertel nog doopstories wat julle ken. 
  • Skryf neer in jou eie woorde wat jou doop vir jou beteken. Deel dit daarna met mekaar. Dit kan net ‘n eenvoudige sin wees. 

Hier is skakels na ‘n paar videos wat julle gerus na kan kyk:

Die Here seën jou en beskerm jou, sy Gees is by jou en herinner jou dat jy sy geliefde kind is. Amen 

Leave a Reply