Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 3:13-17 (A)

By June 14, 2024No Comments

Dag 1: Doop

Geliefd – Jesus word gedoop 

Ek onthou hoe lekker dit was as kind om ‘n brief te kry in die posbus. Dit was altyd baie opwindend, want ek het nie baie briewe ontvang nie.  Ek het dadelik gewonder van wie die brief is en wat daarin staan. Dalk van my ouma, dalk van my penmaat in Bloemfontein, of dalk ‘n verjaarsdagkaartjie van my tannie in Engeland… Vandag ontvang ons nie eintlik meer briewe deur die pos nie, maar dis sekerlik dieselfde opwindende gevoel wat ‘n mens kry as jou foon “ping” en jy weet iemand het vir jou ‘n boodskap gestuur. Hierdie week gesels ons oor ‘n spesiale boodskap wat God vir ons elkeen stuur. 

Die verhaal wat ons vandag gaan lees, is die verhaal oor Jesus se doop. Jesus is gedoop deur Johannes die Doper, kort voor Hy met sy bediening begin het.  

Ek wonder of jy gedoop is? En ek wonder of jy al ooit gedink het oor wat jou doop vir jou beteken? In die meerderheid kerke oor die wêreld heen, is die doop ‘n simbool of teken van ‘n belangrike boodskap wat God vir jou gee. Net soos ‘n belangrike brief of ‘n selfoon boodskap, stuur God vir jou ‘n spesiale boodskap. Ek wonder of jy kan raai wat hierdie spesiale boodskap is wat God vir jou stuur met jou doop? Kom ons kyk wat God vir Jesus, sy Seun, sê by Jesus se doop – dalk gee dit vir jou ‘n leidraad…  

Kom ons lees saam uit Matteus 3:13-17 en luister wat dit was wat God vir Jesus gesê het. 

Die doop van Jesus

13 In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

15 Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16 Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17 Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Vertel van ‘n keer toe jy ‘n spesiale boodskap ontvang het – dalk met ‘n kaartjie, of per pos of met ‘n Whatsapp.  
  2. Lees weer vers 17. Watter spesiale boodskap gee God vir Jesus by sy doop?  
  3. Hoekom dink jy gee God hierdie spesiale boodskap vir Jesus?

Kom ons bid saam. 

Bid vir mekaar, en sê vir God dankie vir elkeen in jou gesin of huis. 

Doen nou die volgende saam.  

  • Wanneer ons deur die doop met Christus verenig word, neem ons die nuwe identiteit in Hom op. Mens kan sê dat sy naam op jou voorkop geskryf word. Trek ’n kruis op elkeen in die huis se voorkop en sê vir mekaar: “Jy is God se geliefde kind. Hy is bly oor jou.”
  • Kinders, julle kan na die kort video kyk oor Jesus se doop deur die skakel te volg:  The Baptism of Jesus
  • Ouers en tieners, kyk gerus na die Bible Project se Afrikaanse video oor die betekenis van Jesus se doop en Lukas 3-9: Evangelie volgens Lukas, hfst. 3-9

Die Here seën jou en beskerm jou, sy Gees is by jou en herinner jou dat jy sy geliefde kind is. Amen 

Leave a Reply