Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 2:9-15 en Spreuke 9:10

By June 14, 2024No Comments

Dag 4: Jesus is ons Raadsman  (Matteus 2: 9-12, Spr 9:10) 

Wyse mense dien die Here

Ons ken mos almal die verhaal van die sterrekykers uit die ooste wat na Betlehem gekom het. Het jy geweet hulle het nie saam met die herders by die stal opgedaag nie? Matteus skryf dat Josef en Maria in dié stadium reeds in ’n huis gebly het, nie ’n stal nie, en hy praat van Jesus as die “Kindjie”, nie ’n baba nie. En later laat Herodes al die seuntjies jonger as 2 jaar doodmaak, wat mense laat vermoed dat Jesus toe al iewers tussen ’n jaar en twee jaar oud was. 

In die ou vertaling is die sterrekykers “wyse manne” genoem. Ek lees iewers dat iemand tong in die kies sê dat die “wyse manne” nie so wys was nie. Want as hulle wys was, sou hulle gouer pad-aanwysings gevra het en dan sou hulle nie ’n jaar laat opgedaag het nie. Hulle sou betyds vir die geboorte daar gewees het om Maria met die geboorte by te staan, die stal skoon te maak, en hulle sou boonop meer praktiese geskenke gegee het, soos doeke, formule melk en ‘baby wipes’.  

Maar dit is sommer tong in die kies. Die sterrekykers was tog wys gewees, want hulle het 3 belangrike geskenke vir Jesus gegee – goud, wierook en mirre – wat beteken dat hulle besef het dat Jesus ‘n belangrike Koning is wat geëer moet word. 

Kom ons lees saam oor hoe die Here die sterrekykers gelei het en watter geskenke hulle vir Hom gegee het in Matteus 2: 9-12 

9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10 Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12 En omdat God hulle in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

En in Spreuke 9:10 staan die woorde… 

10 Wysheid begin met die dien van die Here; 

wie die Heilige ken, het werklik insig. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Wat beteken die woorde: “Wysheid begin met die dien van die Here”? 
  2. Die sterrekykers gee 3 geskenke wat wys Jesus is Koning – hoe kan jy hierdie jaar Jesus die Koning maak van jou lewe en besluite? 
  3. Die verhaal vertel dat God met die sterrekykers / wyse manne gesels het deur in ‘n droom met hulle te praat. Op watter ander maniere lei die Here vir ons? 
  4. Vertel van ‘n keer toe die Here vir jou gelei het. 

Kom ons bid saam. 

Steek ‘n kers aan en wag vir 1-2 minute in stilte. Gee jou gedagtes, bekommernisse of vrae wat in jou gemoed opkom vir Jesus, jou Raadsman. Bid daarna vir mekaar – bid dat die Here julle sal lei hierdie jaar. 

Doen nou een van die volgende saam.  

As julle nog nie ‘n ster gemaak het nie, kan julle dit vandag doen as simbool van Jesus wat julle lei. Skryf die woord ‘Raadsman’ op die ster en gesels oor wat dit beteken dat Jesus ons Raadsman is. 

Die Here seën jou, is by jou en lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen 

Leave a Reply