Skip to main content
Huisgeloof Argief

Matteus 2: 1-6 (B)

By June 14, 2024No Comments

Dag 5: Jesus is ons Raadsman (Matteus 1: 1-6) 

Wyse manne en diversiteit

Ek was onlangs in Bellville se middedorp om na Buitelandse Sake toe te gaan. Ek was verras oor die verskillende tale en kulture mense wat ek in die 2 blokke op pad daarheen raakgesien het. Daar was hawelose mense, arm mense en winkeleienaars. Daar was kinders en oumense. Daar was Somaliërs, Frans sprekende mense uit Afrika lande en mense wat Afrikaans praat. Verskillende mense wat in dieselfde area werk, inkopies doen en leef. Ek het weereens besef hoe divers ons land is, en ek is trots daarop dat ons ‘n reënboog nasie is. Maar dit is ook nie aldag maklik om met iemand te kommunikeer of saam te werk wat anders as jy klink of lyk of selfs glo nie. 

Met Jesus se geboorte, wys God vir ons hoe Hy is. Alhoewel ons nie vir God kan sien nie, wys Jesus vir ons dat God ‘n God is wat mense insluit en liefhet.   

Hy het mense van alle agtergronde en tale en kulture lief. Hierdie week lees ons die verhaal van die sterrekykers uit die ooste wat Jesus besoek het. Is dit nie wonderlik om te dink dat die sterrekykers wat uit die ooste gekom het, dalk Arabies gepraat het nie! En het jy geweet Jesus was self meertalig? In hulle huis het Hy met sy familie Aramees, sy moedertaal, gepraat en hy het ook geleer het om Hebreeus te lees en te skryf. Maar Hy het ook soos die mense van daardie tyd Grieks gepraat – dit is ook die taal waarin die Nuwe Testament geskryf is. So ons weet dat Jesus ten minste 3 tale magtig was. 

Is dit nie wonderlik om te dink dat die Here jou liefhet, ongeag hoe jy lyk of watter taal jy praat? 

Kom ons lees saam uit Matteus 1:1-6 

Besoek uit die ooste 

1 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” 

3 Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4 Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5 Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe: 

6 “En jy, Betlehem, gebied van Juda,  jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Vertel van ‘n keer toe jy iemand van ‘n ander kultuur leer ken het. 
  2. Hoekom dink jy het Jesus meer as een taal gebruik? 
  3. Waar in jou dorp hoor jy ander tale of sien jy mense van ander kulture raak? 
  4. Watter raad of wysheid sal jy gee vir iemand wat ‘n vriend of kollega het van ‘n ander kultuur, taal of godsdiens?

Kom ons bid saam. 

Vandag bid ons vir mense van ander tale, kulture of agtergronde wat ons ken. Dink aan mense wat in jou huis werk, by die werk is of wat jou pad kruis.

Doen nou een van die volgende saam.  

Leer vandag om te groet in ‘n ander taal – daar is apps en webtuistes wat jy hiervoor kan gebruik. 

Die Here seën jou, is by jou. Die Here lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen 

Leave a Reply