Skip to main content
Huisgeloof

Matteus 2: 1-6 (A)

By June 14, 2024No Comments

Dag 3: Jesus is ons Raadsman (Matt 1:1-6) 

Die wyse manne se besoek uit die ooste

Dit is ‘n nuwe jaar! En dit is ook ‘n nuwe seisoen op ons kerkjaar kalender.  

Ons het ‘n rukkie terug Kersfees gevier, waar ons die koms van Koning Jesus herdenk het. Die kerkjaar seisoen wat volg op Kersfees is Epifanie – jy het reg gehoor – Epi-fa-nie.  

Die woord “epifanie” beteken om skielik iets te besef, of iets wat in ‘n oomblik bekend gemaak word. In dié kerkjaar seisoen dink ons aan God, wat Homself kom bekend maak deur sy seun Jesus. Jesus het aarde toe gekom, sodat ons kan sien hoe God is. Wie sou kon dink dat as God Homself aan ons bekendmaak, Hy sou kies dat Jesus in alle eenvoud in ‘n stal gebore sou word? ‘n Koning sonder mag of status.  

Die sterrekykers of wyse manne uit die ooste het die sterre bestudeer om belangrike gebeure raak te sien. Hulle het die insig gehad om te weet dat iemand belangrik, ‘n Koning, gebore is. Hulle het alles agtergelaat en honderde kilometers gereis, op soek na hierdie koning van die Jode.  In kontras met die sterrekykers se wysheid, het die nuus koning Herodus ontstel. Hy was dalk bekommerd dat hierdie nuwe koning sy plek sou neem. Hy was dalk jaloers, of selfs kwaad. Ons sien hoe onwys hy opgetree het en later selfs Jesus wou doodmaak – en hoe hy in die proses die betekenis van Jesus se koms heeltemal gemis het. 

Kom ons lees saam uit Matteus 1:1-6 

Besoek uit die ooste

1Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe:

6“En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.

Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees. ”

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Met watter karakter in die verhaal assosieer jy en hoekom? 
  2. Koning Herodus het baie raadgewers wat die voorspellings van Jesus se geboorte ken, maar hulle mis die punt van Jesus se koms – hoekom dink jy het dit gebeur? 
  3. Die sterrekykers / wyse manne is nie Jode nie – hulle het ‘n ander taal, kultuur en godsdiens – tog besef hulle die belangrikheid van Jesus se geboorte. Vertel van ‘n keer toe iemand onverwags vir jou iets geleer het.

Kom ons bid saam. 

Sê dankie vir die Here oor die mense in jou lewe wat jou die afgelope jaar gehelp het of raad gegee het. 

Doen nou een van die volgende saam.  

  • Bel vandag vir iemand om dankie te sê vir iets wat hulle vir jou gedoen het. 
  • Kinders  – Julle kan ‘n ster of sterre maak en iewers ophang – bv. by die voordeur – om julle te herinner aan die Betlehem ster en die verhaal van die wyse manne. 
  • Kom luister die res van die week saam oor hoe die Here ons lei as ons Raadsman en wat dit te doen het met die wyse manne se besoek uit die ooste! 

Die Here seën jou, is by jou. Hy lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen 

Leave a Reply