Laerskool Leier (prefek) toerustingsessie (60 min) met sjokolades: Laai die Word dokument hier af
Deel die groep in 4-6 kleiner groepe. Gebruik 4-6 van die onderstaande opdragte en gee een vir elke groep om te doen, met regte sjokolades vir elke groep. Die groepe kry 20-30 minute om dit voor te berei en dan 3 minute om dit aan te bied.
Gee vir hulle blaaibordvelle en khoki’s, help hulle om die tyd dop te hou en 1 of 2 persone te kies om terugvoer aan die res te gee.
‘n Leier het die volgende nodig: (verduidelik kortliks en wys telkens die toepaslike sjokolade)
- Leierseienskappe (5 Star)
- Diensbare dade wat ‘n verskil maak (Bar One)
- Opbouende woorde wat ander motiveer (P.S. Chocolate)
- Moet stres en druk kan hanteer en sterk staan (Kit Kat)
- Het geloof en innerlike waardes (Smarties)
- Kan diverse mense bymekaar bring (Quality Street)
Julle gaan nou in groepe hieroor nadink en vir mekaar vertel wat hierdie beteken en doelwitte vir die jaar stel.
Die 5 Star groep (eienskappe van ‘n leier)
Die 5 Star sjokolade is 5 van die beste sjokolade smake in een sjokolade saamgevoeg. ‘n Leier het ook baie goeie eienskappe wat hulle ideaal maak om ‘n voorbeeld te stel en ander te lei. Dink aan die 5 top eienskappe van ‘n ware leier. Begin deur ‘n lys eienskappe te brainstorm en besluit dan saam watter 5 die belangrikste is. Teken / skryf dit op die blaaibordvel vir julle aanbieding.
Die Bar One groep (diensbare dade)
Die Bar One sjokolade se leuse is ‘n 25 uur dag. Dié sjokolade beloof om daardie ekstra bietjie energie te gee sodat dit vir jou voel of jy 25 uur in jou dag het. ‘n Leier doen ook ekstra moeite en stap die ekstra myl om ‘n verskil te maak en hulle is nie net tevrede om die minimum te doen nie. Noem 10 praktiese voorbeelde van daardie “ekstra” moeite wat ‘n leier kan doen en stel dit voor op die blaaibordvel vir julle aanbieding.
Die P.S. Chocolate groep (opbouende woorde)
Hierdie sjokolades herinner ons hoe ons ander moet motiveer en waardeer. Dink saam aan 10 hashtag (#) komplimente of motiverende woorde wat jy vir ander kan gee. Hou leerders, mede leiers asook onderwysers in gedagte wanneer julle dit uitwerk. Stel dit voor op die blaaibordpapier en wees ook gereed om te vertel vir wie en in watter omstandighede jy elk van dié woorde / frases sal gebruik.
Die Kit Kat groep (streshantering)
Kit Kat se leuse is “have a break”. Volgende jaar gaan daar uitdagings wees en tye wat jy stres beleef. Dalk gaan jy angs beleef of groepsdruk. Dalk sal jy bekommerd wees oor jou familie of vriende. Dalk gaan akademie of sport jou druk. Watter 5 dinge sou julle noem wat raad gee vir julleself en ander leerders om die stres en druk van volgende jaar te hanteer sodat jy ook jouself ‘n “break” kan gee? Stel die 5 dinge voor op die blaaibordpapier vir julle aanbieding.
Die Smarties groep (geloof en waardes)
Slim of “smart” leiers weet waar hul krag vandaan kom. Wie of wat kan jou volgende jaar help om ‘n leier te wees? Noem 5 dinge wat jou help / krag gee en beeld dit uit op die blaaibordvel. Julle kan in julle aanbieding ook noem wie vir julle ‘n rolmodel is na wie julle opkyk in terme van elkeen van die 5 dinge.
Die Quality Street groep (diversiteit)
Die gemengde pakkie sjokolades met verskillende kleure, vorms, geure en smake herinner ons aan hoe verskillend ons almal van mekaar is. Somtyds veroorsaak verskille in ‘n skool konflik, misverstande of “klieks”. Dink vir elke tipe sjokolade in die pakkie een praktiese wenk uit om verskille op ‘n positiewe manier te hanteer en/of raad om verskille te oorbrug en diversiteit te vier.
Terugvoer
Gee 3-5 min per groep terugvoering tyd en neem dan alles saam. Daarna kan almal die sjokolades deel en geniet.
Teks en boodskap
Indien dit toelaatbaar is, deel gerus ‘n paar gedagtes uit Kolossense 3:12-17 (Bybel vir Almal). Deel die teks vir elkeen uit en laat hulle die woorde onderstreep wat vir hulle uitstaan. Daarna kan hulle saam bid.
Hoe moet gelowiges lewe?
12God het julle gekies, julle behoort aan Hom en Hy is lief vir julle. Daarom moet julle goeie dinge doen. Julle moet regtig jammer wees vir ander mense en julle moet goed wees vir hulle. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet sagte harte hê, julle moenie gou kwaad word nie. 13Julle moet geduldig wees met mekaar. As iemand iets verkeerd gedoen het, dan moet julle nie kwaad wees vir hom nie, julle moet hom vergewe. Die Here het julle vergewe, en so moet julle mekaar ook vergewe. 14Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees. 15Christus het vir julle vrede gegee en daardie vrede moet julle lewe regeer. God het julle gekies om een te wees, die een liggaam van Christus, sy kerk. Daarom moet julle in vrede met mekaar lewe. Julle moet ook dankbaar wees. 16Julle moet altyd dink aan die goeie boodskap oor Christus. Julle moet soos wyse mense vir mekaar leer en mekaar waarsku om nie verkeerde dinge te doen nie. Julle moet psalms en gesange en ander liedere sing om vir God dankie te sê. 17Julle behoort aan die Here Jesus. Daarom, al die dinge wat julle sê en doen, moet dinge wees wat Hy wil hê, en julle moet vir God die Vader dankie sê. Ja, julle moet vir Christus vra om vir God te sê julle sê dankie.