Gewoontes is iets wat met in-oefening gekweek word. Daaglikse tandeborsel is iets wat maklik kom vir my, maar vir my jongste seuntjie is dit nog ‘n stryd! Net so is geloofsgewoontes iets wat gevorm kan word oor tyd. Die tyd van “lockdown” tydens die Covid-19 pandemie is ‘n ideale tyd om nuut te dink oor julle gesin se Paasfees tradisies. Dit is veral nodig in ‘n samelewing waarin Paasfees soms “gekaap” word deur die paashaas!

Tradisies en rituele help kinders en jongmense om geloof te beleef, want hulle gebruik al hulle sintuie (sien, hoor, ruik, proe en voel) om duidelike prentjies te vorm. Dink byvoorbeeld aan die klanke wat jy assosieer met Kersfees of die reuk van vars paasbolletjies tydens Paasfees.

Watter (nuwe) Paasfees tradisies wil julle vestig hierdie jaar? ‘n Geloofsgewoonte of -tradisie is iets wat ‘n mens saam doen, maar wat ook geloof versterk. Hier is ‘n paar voorstelle om van te kies vir families met kinders:

Plant ‘n saadjie
Plant iets saam as gesin – verduidelik dat ‘n saadjie vir ‘n tyd onder die grond moet wees voordat dit groei en blom. Net so het Jesus deur ‘n tyd van swaarkry en ook die dood gegaan voordat Hy opgestaan het uit die dood en dit oorwin het. Bid vir mense wat deur ‘n moeilike tyd gaan nadat julle die saad/plantjie geplant het.

Vas op Goeie Vrydag
Vas op Goeie Vrydag. Lydenstyd is tradisioneel ‘n tyd waarin Christene dwarsoor die wêreld vas sodat hulle kan onthou dat Jesus gely het. Terwyl hulle vas, raak hulle dan ook meer bewus van die wêreld se lyding en kan hulle daarvoor bid. Besluit saam om iets op te gee vir Goeie Vrydag (bv. ‘n kossoort, skermtyd, of een maaltyd) en spandeer eerder hierdie tyd saam as gesin. Verduidelik vir kinders waaroor dit gaan en bid vir die wêreld se nood.

Maak ‘n kruis uitstalling
Plaas ‘n kruis (wat julle self kan maak) iewers sentraal in die huis sodat almal kan onthou dat Paasfees ‘n Christusfees is. Julle kan ook items om die kruis plaas wat julle herinner aan die gebeure tydens Jesus se laaste dae bv. olie (Jesus word gesalf), wyn en brood (die laaste Avondmaal), ‘n tak of palmtak en klere (die intog in Jerusalem), dorings, ‘n kroon, spykers en ‘n dobbelsteen (kruisiging) en wit lap en ‘n klip (opstanding). Lees die verhaal van die kruisiging in ‘n Kinderbybel saam.

Bak paasbolletjies (“hot cross buns”)
Die tradisie om geurige rolletjies met ‘n kruis te merk kom uit die Middeleeue. Die speserye in die “hot cross buns” verteenwoordig Christus se lyding en die kruis bo-op, sy kruisdood. Kry ‘n resep aanlyn en bak en eet saam paasbolletjies terwyl julle oor Paasfees se betekenis gesels.

Verf paaseiers
Verf saam wit paaseiers of leë eierdoppe (kinders kan self die eiers uitblaas) in simboliese kleure soos rooi (Jesus se bloed/liefde), pers (Jesus is Koning), blou (die Heilige Gees), geel (die hemel of ewige lewe) en groen (groei). Jesus het gesterf sodat ons die ewige lewe kan hê en eiers herinner ons aan nuwe lewe!

Hou ‘n paaseier skattejag
Sjokolade paaseiers is seker die bekendste tradisie vir kinders. Dit kan ook as volg vir kinders verduidelik word: Sjokolade eiers dui op die leë graf (hol eiers/eierdoppe) en die klip voor die graf. Eiers, henne en hasies dui op vrugbaarheid, met ander woorde, nuwe lewe (die opstanding). Die soet sjokolade herinner ons hoe lekker dit is om Jesus se kinders te wees. Die gebruik om paaseiers te versier en weg te steek dateer uit die 13e eeu. Hou ‘n skattejag met die eiers en verduidelik vir kinders dat die weggesteekte eiers ons aan Jesus se liggaam in die graf herinner. En die vreugde om die eiers te vind, simboliseer dan Jesus se opstanding uit die dood!

Eet vis
Die gebruik om vis of kerrievis te eet op Goeie Vrydag is ook ‘n baie ou tradisie. Goeie Vrydag is nog deel van Lydenstyd waartydens baie Christene vas van lekkernye en vleis. Daarom het vis-eet ‘n Goeie Vrydag tradisie geword. Eet vis op Goeie Vrydag saam met Christene wêreldwyd en gesels oor hoekom Jesus mens moes word en moes ly en sterf.

Maak ‘n “ichthus” simbool
Die vis-simbool, of ichthus simbool was die geheime kenteken van die vroeë dissipels. Hulle het groot vervolging en swaarkry beleef. Die ichthus simbool was ‘n manier om mekaar uit te ken sodat hulle mekaar kon ondersteun. Catus is ‘n Griekse woord wat vis beteken, maar dit is ook ‘n akroniem vir die woorde “Jesus Christus, Seun van God, Redder”. Soek dit op die internet en teken een as gesin wat julle iewers kan opplak in die huis as simbool daarvan dat julle kies om Jesus se volgelinge te wees.

Klip voor graf
Elkeen in die gesin soek ‘n mooi klip in die tuin of in julle omgewing. Die klip laat ons dink aan die groot klip wat voor Jesus se graf weggerol is. Gebruik verf of penne om die klip te versier. Skryf op die klip iets soos “Jesus lewe” en gesels saam oor die betekenis van Jesus se opstanding. Hou die klip op ‘n plek waar julle dit gereeld sien en julle kan herinner aan Jesus se opstanding.

 

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Deut 6: 6-7

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug en Familiebediening, Wes-Kaapland Sinode).

 

Leave a Reply

en_ZAEnglish
en_ZAEnglish