Hoe kan ons hoop kweek by kinders en tieners in tye van chaos, onsekerheid en geweld in Suid-Afrika?

Ek besef as ouer van 3 kinders, dat my optrede, woorde en keuses in hierdie tyd my kinders se persepsies oor ander mense en oor ons land vorm.  As ons praat, of selfs grappies maak, sonder om te dink, kan dit onbewustelik rassisme, hopeloosheid, wantroue en selfs selfsug versterk by ons kinders. Ons het as gelowiges egter die keuse om in hierdie tyd doelbewus by ons kinders ‘n alternatiewe verhaal van veerkragtigheid en hoop te kweek te midde van onrus en geweld in ons land.
Want ons word geroep deur Jesus om as vredemakers op te tree en met geloof en dapperheid te leef te midde van onsekerheid en onreg.

Luister hier na die podcast:

Maar hoe kan jy dit prakties doen? Hier is 4 wenke:

  1. Skep veiligheid, vertroue en empatie vir jou kinders

Dis belangrik om jou kinders letterlik veilig te hou, maar ook dat jou woorde en optrede hulle veilig laat voel. As hulle dinge op die TVsien, weet hulle nie hoe altyd hoe ver dit is of wat die konteks is nie en kan dit hulle laat met onsekerheid en vrees.

Skep vertroue – maak ‘n spasie vir hulle om te kan sê hoe hulle dink en voel. Vra oop vrae vir tieners of vra kinders om te teken wat hulle dink of voel.

En wys empatie – as hulle bang, onseker of oorweldig voel, moenie dit net afmaak nie. Help hulle om te weet jy hoor hulle en bevestig dat dit okay is om groot emosies te ervaar, soos om bang te voel. Almal voel soms bang – ook grootmense. Ons lewe nie in vrees nie, maar hanteer dit deur daaroor te praat en daaroor te bid.

  1. Dink oor jou eie woorde en optrede

Haal diep asem, en raak self rustig as ouer. Praat geloofstaal en reik uit na mense wat kwesbaar voel. Jou modellering van dapperheid en hoop vorm hulle geloof meer as enige iets anders.

Sit ‘n wag voor jou mond. Dit is natuurlik om gestres te wees, maar wees versigtig om nie jou kind met jou bekommernisse en emosies te belaai nie. Selfs grappies en memes kan onbewustelik gevoelens van verdeeldheid, onreg en rassisme versterk by jou kind.

Praat ook self positief oor die regering, noodpersoneel en beskermingsdienste, al voel jy nie altyd so nie. Bevestig dat jou kinders veilig is en troos of bemoedig kinders of tieners wat angs, bekommernis of woede ervaar.

  1. Dink oor die invloed van ander mense en die media

Beperk jou kinders en tieners se blootstelling aan die media. Dit soms onmoontlik om hulle heeltemal weg te hou van die nuus of van sosiale media, maar beperk wat jy kyk en wat die kinders sien. Bly weg van 24 uur nuusdekking of sensasionele beriggewing. Beelde van brandende geboue, plundering ens. kan emosionele skade doen en onnodige trauma veroorsaak by kinders. Wanneer hulle iets gekyk het – onthou om dit te ontlont en konteks te gee.

Praat ook met jou tiener oor die rol van sosiale media en herinner hulle dat hoe meer jy na iets kyk, hoe meer word jy met soortgelyke berigte ge”voer”. Dus skep dit nie altyd ‘n gebalanseerde uitkyk op die waarheid nie. Gesels ook lekker openlik oor wat hulle vriende vir hulle aanstuur en hoe dit hulle persepsies kan beïnvloed.

  1. Doen iets positief en bid saam

Begin met iets konkreet – byvoorbeeld om kaartjies te maak vir die plaaslike polisiestasie of iemand wat jy ken in die polisie, weermag, sekuriteitsdiens of ‘n mediese personeellid te kontak en te ondersteun.

Maak tyd om saam te bid vir ons land of luister na musiek wat jou kan help om te bid. Lees en bid die Woord. Gesels eerlik met God, ook saam met jou kinders.

Ek sluit af met die gebed van Francis van Assisi uit die 13de eeu:

Here,
maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.

Waar daar oortredings is, vergifnis,
waar daar twyfel is, geloof,
waar daar wanhoop is, hoop.
waar daar duisternis is, lig,
waar daar droefheid is, vreugde.

O, Heilige Meester, gee dat ek,
in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;
om begrip te soek, andere sal verstaan;
om liefde te soek, andere sal bemin.

Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;
deur te vergewe, dat ek vergewe word.
En dit is deur te strewe,
dat ek die ewige lewe beërwe.

 

~Anriëtte de Ridder

Leave a Reply

en_ZAEnglish