Skip to main content
Huisgeloof Argief

Kolossense 3:12-17 (Ondersteun mekaar: Dag 6)

By June 19, 2024No Comments

Dag 6Ondersteun mekaar deur te kuier 

Hoe spel ‘n mens liefde?  L I E F D E?  Nee, probeer weer.  T Y D.  Die dinge waarvoor ons die liefste is, is die dinge waaraan ons die meeste tyd spandeer.  Wanneer iemand vir jou sê ek is jammer ek net nie tyd gehad nie – beteken dit eintlik dat daar belangriker of meer dringende dinge was om te doen. 

‘n Seuntjie roep een aand bang uit sy kamer na sy ma – mamma ek is bang kom sit by my.  Mamma is besig en roep terug – moenie bang wees nie, Jesus is by jou.  Hy antwoord terug – maar Mamma, ek kort vanaand ‘n Jesus met ‘n velletjie om!   

Wanneer mense by mekaar kuier gebeur daar iets spesiaals.  Mense voel versorg, belangrik, geliefd, hulle word verstaan en gehoor en hulle word ondersteun.  Hierdie kuier is dalk om ‘n braaivleisvuur, en soms in ‘n aftree oord langs ‘n bed.  Kuier is nie altyd ‘n gelag en gesels nie, kuier is soms ook wanneer mense stil langs mekaar sit en na die see kyk.  Wanneer ons mekaar ondersteun deur tyd saam met ander te spandeer, is ons soms soos ‘n Jesus met ‘n velletjie om vir mekaar.   

Kom ons lees weer saam uit Kol 3:12-17 uit die Bybel@kinders 

God het julle gekies en het julle sommer baie lief.  Daarom, soos ‘n mens nuwe klere aantrek, so moet julle nou ook nuwe gewoontes aanleer.  Julle moet nou vir ander mense omgee en vir hulle goed wees.  Moenie dink julle is darem baie belangrik nie.  Wees eerder nederig.  Praat mooi met ander mense.  Julle moet mekaar verdra.  Wees geduldig met mekaar.  Vergewe elkeen wat iets verkeerd teen julle gedoen het.  Dink net hoeveel lelike dinge het julle gedoen.  Tog het die Here julle vergewe.  Dan moet julle ook mos die mense vergewe wat weer lelike dinge aan julle gedoen het.   

Die belangrikste van alles is dat julle mekaar moet liefhê.  Liefde bind ‘n mens mos saam.  As julle vir iemand in die gemeente kwaad is, moet julle gaan vrede maak met hom.  Moenie dan lelik maak met so iemand nie.  Onthou dat God wil hê almal in die gemeente moet mooi in vrede met mekaar saamleef.  En onthou om vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir julle gee.   

Die Bybel vertel julle mooi hoe julle met mekaar moet saamleef.  Doen wat die Bybel sê.  Julle moet ook in die gemeente vir mekaar leer wat reg en wat verkeerd is.  Loof God.  Sing psalms en ander mooi geestelike liedjies.  ‘n Mens kan God mos ook op so ‘n manier dankie sê vir wat Hy vir ‘n mens doen.  Wat julle ook al sê of doen, lewe so dat mense kan sien julle behoort aan Jesus.  Sê ook vir God dankie vir wat Jesus vir julle gedoen het.   

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Vertel vir mekaar van ‘n keer wat jy lekker gekuier het saam met mense 
  2. Wat dink julle oor die idee dat ons wys waarvoor ons lief is met die hoeveelheid tyd wat ons daaraan spandeer? 
  3. Dink jy jy moet jou tyd dalk anders spandeer as wat jy tans doen? 

Kom ons bid saam.

Help ons Here, om ons tyd met mense reg te spandeer! 

Amen 

Doen nou die volgende saam.  

Begin by julle gesin, en besluit op ‘n spesiale kuiertyd wat vir julle iets spesiaal gaan beteken.  Kies ‘n datum om dit sommer gou te doen.  Dink aan die mense rondom julle – wie van hulle het nodig dat iemand by hulle moet kom kuier.  Gaan doen dit sommer hierdie naweek! 

Die Here sal by julle wees en julle seën. 

Leave a Reply