Dag 5: Ondersteun mekaar deur te praat
Een van die moeilikste goed wat ek al moes doen, was om te gaan jammer sê en omverskoning vra toe ek die verkeerde dinge gesê het en deel was van ‘n groot rusie. Ek was tegelyketyd verskriklik skaam vir myself en ek was ook baie bang en bewerig. Ek het in my kop die woorde wat ek wou sê oor en oor ge oefen, en in my kop probeer om myself te verdedig, dat ek nie regtig so verkeerd was nie, maar daardie gesprek wou nie uitwerk nie.
Ek moes diep asemhaal, en braaf ‘n afspraak maak om die gemors waarvan ek deel was, te begin oplos. Dit was nie lekker nie, maar dit was vreemd ‘n verligting! Want toe ek begin jammer sê, toe begin die ander persoon ook jammer sê, want sy het ook oorreageer. Ons kon die vrede tussen ons herstel, ons het mekaar beter verstaan, en ons kon mekaar se standpunte respekteer en planne maak om in die toekoms mekaar beter te ondersteun sonder om vas te sit. Net soos ons 2 teksgedeeltes van die week sê – God het vir ons vrede gegee, en daarom moet ons in vrede met mekaar lewe. En een van die maniere waarop ons dit doen, is die manier waarop ons met mekaar en oor mekaar praat.
Kom ons lees weer saam uit Kol 3:12-17 uit die Bybel@kinders
God het julle gekies en het julle sommer baie lief. Daarom, soos ‘n mens nuwe klere aantrek, so moet julle nou ook nuwe gewoontes aanleer. Julle moet nou vir ander mense omgee en vir hulle goed wees. Moenie dink julle is darem baie belangrik nie. Wees eerder nederig. Praat mooi met ander mense. Julle moet mekaar verdra. Wees geduldig met mekaar. Vergewe elkeen wat iets verkeerd teen julle gedoen het. Dink net hoeveel lelike dinge het julle gedoen. Tog het die Here julle vergewe. Dan moet julle ook mos die mense vergewe wat weer lelike dinge aan julle gedoen het.
Die belangrikste van alles is dat julle mekaar moet liefhê. Liefde bind ‘n mens mos saam. As julle vir iemand in die gemeente kwaad is, moet julle gaan vrede maak met hom. Moenie dan lelik maak met so iemand nie. Onthou dat God wil hê almal in die gemeente moet mooi in vrede met mekaar saamleef. En onthou om vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir julle gee.
Die Bybel vertel julle mooi hoe julle met mekaar moet saamleef. Doen wat die Bybel sê. Julle moet ook in die gemeente vir mekaar leer wat reg en wat verkeerd is. Loof God. Sing psalms en ander mooi geestelike liedjies. ‘n Mens kan God mos ook op so ‘n manier dankie sê vir wat Hy vir ‘n mens doen. Wat julle ook al sê of doen, lewe so dat mense kan sien julle behoort aan Jesus. Sê ook vir God dankie vir wat Jesus vir julle gedoen het.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Vertel mekaar van ‘n keer wat jy ook ‘n moeilike gesprek met iemand anders moes gehad het. Wat het gebeur?
- Ons ondersteun mense ook op ander manière deur te praat – kan julle dink aan manière waarop julle iemand kan ondersteun deur iets te sê oor dinge wat nie reg is in die wêreld nie?
- Ons teksgedeelte sê ons moet ook vir mense leer wat reg en verkeerd is. Hoe dink julle praat ons daaroor?
Kom ons bid saam.
Help ons Here, om te praat oor die regte dinge.
Amen
Doen nou die volgende saam.
Kies elkeen van julle ‘n persoon wat julle graag vandag wil ondersteun. Soek ‘n teksvers of bemoedigende woorde stuur ‘n Whatsapp of ‘n stemboodskap, of skryf ‘n kaartjie en gee dit vandag vir iemand. Dalk is dit net wat hulle vandag nodig het om te hoor.
Die Here sal saam met julle wees en julle seën.