Skip to main content
Huisgeloof Argief

Kolossense 3:12-17 (Ondersteun mekaar: Dag 4)

By June 19, 2024No Comments

Dag 4:  Ondersteun mekaar deur te doen 

Ek ken iemand wat altyd, wanneer iemand anders vir hom sê:  “Ek sal vir jou bid” terug antwoord:  “Maar doen dit sommer nou!” En dan net daar waar hy is, gaan staan hy met sy oë toe en wag dat die persoon net daar en dan vir hom bid.   

Ek dink as hy dit vir my sê sal my eerste reaksie dalk wees om rond te kyk wie sien my!  Maar hierdie man help my om te onthou dat geloof nie net woorde en mooi gedagtes is nie, maar dat dit ook beteken om ander te ondersteun deur praktiese goed te doen.   

Vullis sakke uitdra, ‘n koppie koffie in ‘n besige dag, enige taak wat jy nie hoef te doen nie, maar wat vir iemand anders ‘n verskil in hul lewens maak – wys dat ons omgee en bereid is om mekaar te ondersteun.   

Kom ons lees weer saam uit Kol 3:12-17 uit die Bybel@kinders 

God het julle gekies en het julle sommer baie lief.  Daarom, soos ‘n mens nuwe klere aantrek, so moet julle nou ook nuwe gewoontes aanleer.  Julle moet nou vir ander mense omgee en vir hulle goed wees.  Moenie dink julle is darem baie belangrik nie.  Wees eerder nederig.  Praat mooi met ander mense.  Julle moet mekaar verdra.  Wees geduldig met mekaar.  Vergewe elkeen wat iets verkeerd teen julle gedoen het.  Dink net hoeveel lelike dinge het julle gedoen.  Tog het die Here julle vergewe.  Dan moet julle ook mos die mense vergewe wat weer lelike dinge aan julle gedoen het.  

Die belangrikste van alles is dat julle mekaar moet liefhê.  Liefde bind ‘n mens mos saam.  As julle vir iemand in die gemeente kwaad is, moet julle gaan vrede maak met hom.  Moenie dan lelik maak met so iemand nie.  Onthou dat God wil hê almal in die gemeente moet mooi in vrede met mekaar saamleef.  En onthou om vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir julle gee.  

Die Bybel vertel julle mooi hoe julle met mekaar moet saamleef.  Doen wat die Bybel sê.  Julle moet ook in die gemeente vir mekaar leer wat reg en wat verkeerd is.  Loof God.  Sing psalms en ander mooi geestelike liedjies.  ‘n Mens kan God mos ook op so ‘n manier dankie sê vir wat Hy vir ‘n mens doen.  Wat julle ook al sê of doen, lewe so dat mense kan sien julle behoort aan Jesus.  Sê ook vir God dankie vir wat Jesus vir julle gedoen het.   

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Vertel mekaar van ‘n keer wat iemand iets vir jou gedoen het wat jou laat voel het hulle ondersteun jou. 
  2. Dink julle dat jy net dinge hoef te doen wat vir jou lekker is om te doen, of gaan dit eerder oor dinge wat ander mense nodig het?  
  3. Op watter manière kan julle as gesin doen wat die Bybelgedeelte sê? 

Kom ons bid saam.

Help ons Here, om raak te sien waar ons ander kan ondersteun deur te doen. 

Amen 

Doen nou die volgende saam.  

Dink aan iemand in julle gemeente of gemeenskap wat julle graag wil ondersteun.  Dalk is dit ‘n ouer persoon, of ‘n gesin.  Julle kan selfs julle gemeente uitvind of daar iemand is wat julle kan ondersteun deur iets vir hulle te doen.   

Vind uit wat hulle nodig het en maak ‘n plan hoe julle kan wys julle gee om deur iets prakties te doen.  Dalk wil julle die jong kinders of babas oppas sodat die grootmense ‘n bietjie kan rus, dalk gaan lees julle vir ‘n tannie wat nie meer kan sien nie of was iemand se motor vir hulle.   

Die Here sal by julle wees en julle seën,.

Leave a Reply