Skip to main content
Huisgeloof Argief

Kolossense 3:12-17 (Ondersteun mekaar: Dag 3)

By June 19, 2024No Comments

Dag 3: Ondersteun mekaar deur te luister

Wanneer daar iets groots – goed of sleg – met my gebeur, kan ek nie wag om dit te deel met die mense die naaste aan my nie.  Mense wat bereid is om te los waarmee hulle besig is en vir my al hulle aandag en tyd te gee.  Dit is darem maar kosbaar en gee ‘n mens so ‘n goeie gevoel dat jy veilig is en waardeer word wanneer mense regtig vir jou luister.  Dit is nogals moeilik deesdae om regtig vir iemand te luister – want mense is so besig en doen gewoonlik 2 of 3 dinge tegelyk.  Dan gebeur dit soms dat iemand iets belangriks met jou deel, en al wat jy antwoord is mmm of oh, in plaas daarvan om regtig te luister want jou gedagtes is op ‘n ander plek.   

Soveel keer wanneer ek met ‘n probleem gesukkel het, het ek nie raad nodig gehad van die mense rondom my nie, maar ek het nodig gehad dat mense saam met my luister terwyl ek hardop dink en praat.  Selfs al is dit ‘n probleem sonder ‘n oplossing.  Wanneer iemand na my luister – regtig na my luister – voel dit vir my asof die probleem waarmee ek sukkel Kleiner word, sy mag verloor en ek ondersteun word deur mense om my.   

Kom ons lees saam uit Kol 3:12-17 uit die Bybel@kinders 

God het julle gekies en het julle sommer baie lief.  Daarom, soos ‘n mens nuwe klere aantrek, so moet julle nou ook nuwe gewoontes aanleer.  Julle moet nou vir ander mense omgee en vir hulle goed wees.  Moenie dink julle is darem baie belangrik nie.  Wees eerder nederig.  Praat mooi met ander mense.  Julle moet mekaar verdra.  Wees geduldig met mekaar.  Vergewe elkeen wat iets verkeerd teen julle gedoen het.  Dink net hoeveel lelike dinge het julle gedoen.  Tog het die Here julle vergewe.  Dan moet julle ook mos die mense vergewe wat weer lelike dinge aan julle gedoen het.   

Die belangrikste van alles is dat julle mekaar moet liefhê.  Liefde bind ‘n mens mos saam.  As julle vir iemand in die gemeente kwaad is, moet julle gaan vrede maak met hom.  Moenie dan lelik maak met so iemand nie.  Onthou dat God wil hê almal in die gemeente moet mooi in vrede met mekaar saamleef.  En onthou om vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir julle gee.   

Die Bybel vertel julle mooi hoe julle met mekaar moet saamleef.  Doen wat die Bybel sê.  Julle moet ook in die gemeente vir mekaar leer wat reg en wat verkeerd is.  Loof God.  Sing psalms en ander mooi geestelike liedjies.  ‘n Mens kan God mos ook op so ‘n manier dankie sê vir wat Hy vir ‘n mens doen.  Wat julle ook al sê of doen, lewe so dat mense kan sien julle behoort aan Jesus.  Sê ook vir God dankie vir wat Jesus vir julle gedoen het.   

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Vertel mekaar van ‘n keer wat jy gevoel het iemand ondersteun jou deur regtig vir jou te luister
  2. Is dit vir jou makliker om te praat of om te luister
  3. Hoe pas luister om te ondersteun in by dit wat God van ons vra

Kom ons bid saam.

Help ons Here, om regtig vir mekaar te luister.

Amen  

Doen nou die volgende saam: 

Begin ‘n nuwe gewoonte in julle gesin om mekaar te ondersteun deur mooi te luister.  Maak ‘n afspraak vir ‘n luister uur, waar elkeen ‘n kans kry om iets te deel en al die ander luisteraars moet met aandag luister sonder om met iets anders besig te wees.  Steek sommer julle fone diep weg vir daardie tyd.   

Die Here sal by julle wees en julle seën 

Leave a Reply