Skip to main content
Huisgeloof Argief

Kolossense 3:12-17 (Ondersteun mekaar: Dag 2)

By June 19, 2024No Comments

Dag 2: Ondersteun mekaar deur te deel 

Daar is 2 maniere waarop ‘n mens iets kan deel met ander mense.  Ek en my boetie het altyd 1 boks smarties gekry, en dan moes ons dit deel.  Ons het baie deeglik en regverdig gewerk daarmee – ons het die smarties uitgegooi op ‘n tafel en gesorteer volgens kleure, en dan het ons elke kleur se smarties gedeel sodat almal ewe veel van elke kleur het.  Ekstra smarties van elke kleur is weer opgedeel en as daar dalk 1 ekstra oorgebly het, sou ons dit vir my pa gaan gee het om te eet.   

Die beter manier om te deel, is eenvoudig om daar waar jy sien iemand kort iets waarvan jy het,  van dit wat jy het weg te gee.  Soveel keer is iets waarvan jy ekstra het, net die ding wat iemand anders nodig het om van te oorleef.   

Kom ons lees saam uit Kol 3:12-17 uit die Bybel@kinders 

God het julle gekies en het julle sommer baie lief.  Daarom, soos ‘n mens nuwe klere aantrek, so moet julle nou ook nuwe gewoontes aanleer.  Julle moet nou vir ander mense omgee en vir hulle goed wees.  Moenie dink julle is darem baie belangrik nie.  Wees eerder nederig.  Praat mooi met ander mense.  Julle moet mekaar verdra.  Wees geduldig met mekaar.  Vergewe elkeen wat iets verkeerd teen julle gedoen het.  Dink net hoeveel lelike dinge het julle gedoen.  Tog het die Here julle vergewe.  Dan moet julle ook mos die mense vergewe wat weer lelike dinge aan julle gedoen het.   

Die belangrikste van alles is dat julle mekaar moet liefhê.  Liefde bind ‘n mens mos saam.  As julle vir iemand in die gemeente kwaad is, moet julle gaan vrede maak met hom.  Moenie dan lelik maak met so iemand nie.  Onthou dat God wil hê almal in die gemeente moet mooi in vrede met mekaar saamleef.  En onthou om vir God dankie te sê vir alles wat Hy vir julle gee.   

Die Bybel vertel julle mooi hoe julle met mekaar moet saamleef.  Doen wat die Bybel sê.  Julle moet ook in die gemeente vir mekaar leer wat reg en wat verkeerd is.  Loof God.  Sing psalms en ander mooi geestelike liedjies.  ‘n Mens kan God mos ook op so ‘n manier dankie sê vir wat Hy vir ‘n mens doen.  Wat julle ook al sê of doen, lewe so dat mense kan sien julle behoort aan Jesus.  Sê ook vir God dankie vir wat Jesus vir julle gedoen het.   

Gesels nou saam oor die volgende vrae. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee vir gesprek of nadenke. 

  1. Wat sê hierdie gedeelte vir ons oor hoe om te deel 
  2. Hoe dink julle help dit om dit wat ons het te deel vir ons om eenvoudiger te lewe 
  3. Wat kan jy deel met ander?  

Kom ons bid saam. 

Here, help ons om eenvoudige te lewe deur te deel. 

Amen.  

Doen nou die volgende saam.  

Dink aan 1 ding wat elkeen in jul gesin kan deel met iemand anders wat dit nodig het.  Dink lekker wyd – dit kan komberse wees wat na die plaaslike dierebeskermingsvereniging geneem kan word;  bruikbare skryfbehoeftes vir ‘n minderbevoorregte skool, dit kan selfs kennis wees soos wanneer jy iemand jonger help met huiswerk klasse.  Skryf ‘n plan met datums neer van wanneer julle hierdie dinge gaan deel.   

Die Here sal by julle wees en julle seën.   .

Leave a Reply