Kinders kan ook verlies ervaar

As jy, of iemand wat jy ken, deur ‘n trauma soos egskeiding, werkverlies of die dood van ‘n geliefde gaan, is dit natuurlik om deur ‘n rouproses te gaan. ’n Mens kan maklik van kinders in dié tyd vergeet. Somtyds dink ons hulle verstaan nog nie wat gebeur nie, of ons probeer hulle teen die pyn beskerm. Hulle rou dalk anders as grootmense, maar hulle verstaan tog wat aan die gang is. Daarom is dit belangrik om hulle ook te ondersteun! Die vyf fases van rou wat deur die Kübler-Ross model beskryf word, kan ons help om beter te verstaan waardeur mense (en ook kinders) gaan en hoe ons iemand kan bystaan wat besig is om te rou.

Vyf fases van rou

Die eerste fase is ontkenning. Dit is ‘n manier om die angstigheid van die situasie te ontsnap. Dit word verwoord in terme van “dit kan nie wees nie”. In hierdie fase praat mense baie in die soeke na wat “waar” is. Dit is moontlik dat kinders te veel of ongepaste inligting kry/gekry het soos wat hulle na volwassenes geluister het. Hulle kan dus heel moontlik oorlaai wees. Hierdie ongefilterde inligting kan kinders angstig laat voel. Wees versigtig om nie te veel inligting met kinders te deel nie, maar tog eerlik te wees. Laat hulle toe om daaroor te gesels en vrae te vra – dit gee hulle kans om hierdie gebeurtenis te verwerk.

Die tweede fase is woede. Tydens dié fase is ‘n persoon kwaad vir enige iemand, bv. die regering, die mediese dienste, winkels, die kerk, God ens. Die persoon voel dan ook gefrustreerd en nutteloos. Dikwels kan dit gepaardgaan met aggressiewe gedrag of irritasie. Kinders kan ook kwaad word, byvoorbeeld teenoor ouers, maar hulle kan nie altyd hulle woede verwoord nie. Woede lyk dikwels anders by kinders bv. hulle gooi onnodige tantrums, hulle het meltdowns oor kleinighede, hulle raak aggressief teenoor boeties en sussies as hulle speel, of hulle raak onnodig geïrriteerd of gefrustreerd. Wees sensitief en hê baie geduld. Hierdie is abnormale omstandighede.

Die derde fase is onderhandeling. Dit is wanneer die persoon met God/die wêreld/ouers onderhandel om die situasie om te keer (al is dit vir ‘n kort tydjie). Kinders kan dalk wonder of God die siekte gestuur het, mense straf of die virus kan wegneem as ons genoeg bid. Hier moet ‘n mens versigtig wees om ‘n maklike antwoord op ‘n kind se vrae te gee. Ons help hulle die meeste wanneer ons wys ons is ook gebroke mense en het nie al die antwoorde nie. Ons kan kinders egter verseker dat God by ons is en ons in alle omstandighede sal help.

Die vierde fase is depressie. Dit is wanneer ‘n persoon besef hulle kan nie hulle situasie verander nie en depressief of moedeloos raak. Kinders se depressiewe gevoelens lyk dikwels meer soos verveeldheid, klaerigheid, buie en aandag-afleibaarheid. In hierdie fase kan persone se eetlus, slaappatroon of buie verander. Hier kan ouers ‘n belangrike rol speel om op ‘n praktiese manier kinders te ondersteun deur ‘n roetine te vestig, te sorg dat ‘n kind gesond eet, genoeg slaap, fisiese oefening kry en sosiale kontak behou met ander, al is dit oor ‘n telefoon. As jy bekommerd is oor jou kind se emosionele welstand, kry hulp of ondersteuning aanlyn of telefonies by ‘n sielkundige of jou predikant.

Die vyfde fase is aanvaarding. Hier begin die persoon die werklikheid aanvaar en vrede maak met dit wat gebeur het. Hier speel die ondersteuning deur die familie ‘n belangrike rol en kan nuwe gewoontes gevestig word.

Elke persoon is uniek en reageer anders tydens ‘n traumatiese gebeurtenis. Die onsekerheid van presies hoe alles gaan uitspeel en hoe die veranderende toekoms gaan lyk, mag veroorsaak dat mense ervaar dat hulle telkens opnuut die verlies moet verwerk en van voor af deur die fases gaan. Hou dus in gedagte dat geen persoon of kind noodwendig deur AL die fases gaan nie, en dat mense dit ook nie in dieselfde volgorde beleef nie.

So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Matt 8:17

Nico Lochner (Predikant by NG Amsterdam in Mpumalanga) en Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens: Jeug en Familiebediening in Wes-Kaapland)

en_ZAEnglish