Skip to main content

Fees van die Gees

Hierdie is ‘n voorstel vir ‘n pinksterreeks om te gebruik as ‘n kinderpinkster reeks, of as kindermomente in die gewone pinksterdienste of as ‘n inter-ouderdom / familie pinksterreeks. Die tekste volg die kronologiese gebeure in Handelinge 1 en 2. Die metafoor van ‘n partytjie word gebruik.

INLEIDING: Die kerk se verjaarsdag
Tydens Pinkster onthou ons dat God die Heilige Gees na sy volgelinge gestuur het om hulle te lei as sy dissipels soos wat Jesus belowe het Hy sou doen.
Die dag toe die Gees uitgestort is, het gewone gelowiges die opdrag gekry en die Gees ontvang om uit te gaan in die wêreld en die evangelie te gaan deel. Gelowiges het ook begin bymekaar kom om mekaar te ondersteun, die woord te lees, te sing en te bid. Daarom word Pinkstersondag ook as die geboortedag van die kerk beskou en vier ons daarom die kerk se verjaarsdag. Die Christelike kerk is dus ongeveer 2000 jaar oud – nie die kerkgebou nie, maar al die kerke en gemeentes in die wêreld.

Die simbole van ‘n partytjie gaan ons hierdie week help om te onthou wat alles gebeur het, maar dit gaan ons ook help om te gesels oor hoe die Gees steeds deel is van ons lewe en deur ons werk.

Tema 1: BLAAS DIE BALLONNE OP
Verhaal: Hemelvaart
Teks: Hand 1:4-5, 9-11, Joh 16: 6, 13-14
Boodskap:
Jesus gaan weg na die hemel (soos ‘n ballon wat opstyg), maar stuur die Gees in sy plek. Hy belowe dat die Gees jou sal vervul, soos asem of helium ‘n ballon vul en vorm gee. Die boodskap kan verder uitgebrei word oor die eienskappe van die Gees.

Tema 2: AANVAAR DIE UITNODIGING
Verhaal: Wag in die bovertrek
Teks: Hand 1: 12-15a
Boodskap:
Die dissipels kom saam met ander gelowiges en ook vroue byeen om te bid en saam te wag op die Gees – net so word jy uitgenooi deur God om te wag, stil te word en vervul te word met die Gees. Daar was allerlei mense in die bovertrek – net so word jy ook uitgenooi, ongeag wie jy is. Die preek kan verder uitgebrei word oor die Gees wat oral is, maar veral by gelowiges wanneer hulle in eenheid saam is.

Tema 3: STEEK DIE KERSIES OP DIE KOEK AAN
Verhaal: Die Heilige Gees kom soos vuur
Teks: Hand 1:8 en Hand 2: 1-4
Boodskap:
Die Heilige Gees daal met Pinkster as ‘n vlam op die dissipels neer. Die boodskap kan verder uitgebrei word oor die krag en werking van die Gees.

Tema 4: SING “VEELS GELUK”
Verhaal: Die dissipels praat in verskillende tale
Teks: Hand 2: 4-15
Boodskap:
Ander volke hoor die goeie nuus in hulle eie taal – amper soos die bekendheid van die “Happy Birthday” lied wat in verskillende tale dwarsoor die wêreld gesing word. Die boodskap gaan oor die goeie nuus wat vir almal bedoel is (ongeag die verskille in taal, kultuur ens.) en ons verantwoordelikheid om daaroor te getuig.

Tema 5: SIT ‘N PARTYTJIE HOEDJIE OP
Verhaal: Petrus verduidelik Joël se profesie
Teks: Hand 2: 16-18
Boodskap:
Almal kan ‘n partytjie hoedjie (“party hat”) dra en die fees geniet, ongeag jou ouderdom. Petrus se toespraak en verduideliking van Joël 2 se profesie is dat die Gees deur almal werk, oud en jonk. Die boodskap gaan verder oor hoe die Gees ons gebruik en deur ons werk.

Tema 6: DEEL DIE GESKENKE UIT
Verhaal: Die eerste gemeente
Teks: Hand 2: 43-47
Boodskap:
Die eerste bekeerdes vorm ook die eerste gemeente – en hulle kenmerk is hulle onderlinge sorg en mededeelsaamheid. Ons gee met partytjies geskenke – die Heilige Gees is ons groot geskenk, maar die Gees maak ons ook vrygewig om dit wat ons het (ons woorde, dade en besittings) uit te deel aan ander. Preek verder hier oor die Gees wat ons vrygewig en gasvry maak.

Hulpbronne vir elke tema kan hier op Google Drive gevind word:
https://drive.google.com/drive/folders/14u7Yols_cO4SBH7-9Jg9F1qclELvA0Gt?usp=sharing
Die Google Drive sal mettertyd met toepaslike hulpbronne aangevul word. 

Leave a Reply